GEORGE NUUS - Die borgtogaansoek van Jaco Barends (31), een van twee mans wat in verband met die dood van Charlton Afrika (33) van Pacaltsdorp in hegtenis geneem is, is vroeër vandag, Woensdag 28 Oktober, in die George-landdroshof geweier.
Barends staan tereg op ’n aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy kon nie buitengewone omstandighede bewys wat sy vrylating op borgtog regverdig nie.
Die gemeenskap is ook ongelukkig oor die toenemende aantal moorde in die omgewing en die misdaad wat inwoners se veiligheid bedreig.
Barends en sy medebeskuldigde, Jason Goeieman (26), het verlede week weer in die hof verskyn. Goeieman het aangedui dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie.
Afrika is op 26 September dood nadat hy na bewering deur ’n voertuig getref is.
Volgens sy pa, Saul Afrika, is Charlton vroeg daardie oggend glo in Jakarandastraat in ’n voertuig gedwing en aangerand. Hy het na bewering daarin geslaag om weg te kom, waarna die bestuurder hom glo agternagesit en van agter getref het.
Die beskuldigdes sal weer op Maandag 7 Desember in die hof verskyn.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’