Update
GEORGE NUUS - GEORGE NUUS - Die feit dat die rooftog haarfyn beplan was, en dié dat hy geen berou getoon het nie, is van die redes wat aangevoer is vir Luvuyuo Dondashe (50) se vonnis van lewenslange tronkstraf in die George-streekhof vroeër vandag, Donderdag 31 Oktober.
Dondashe is op Vrydag 13 September aan die moord van George-sakeman, Theodore Roman (Boeta), skuldig bevind.
Roman (51) is op Maandag 22 Januarie 2018 by sy besigheid, Boeta's Corner, in Nelson Mandela-boulevard in Borcherds, doodgeskiet.
Hy was die oudste van drie kinders. Sy ma en pa is in 2022 en 2023 oorlede.
Benewens die aanklag van moord, is Dondashe skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie en die rig van 'n vuurwapen in die openbaar.
Op die aanklag van roof met verswarende omstandighede is hy tot 25 jaar gevonnis, vyf jaar vir die besit van 'n onwettige wapen en ammunisie en een jaar vir die rig van 'n vuurwapen in die openbaar.
Die vonnisse word samelopend met dié van lewenslank uitgedien.
Dondashe sal dus vir minstens 25 jaar lank agter tralies bly voor hy weer kan aansoek doen om parool.
Die voorval
Roman het nie banksakkies vir sy geld gebruik nie, maar eerder die besigheid se geld in bokse weggesteek. Op die dag van die moord was hy en sy winkelassistent op pad om geld te gaan bank toe Dondashe hulle binne in die winkel vaskeer en geld eis. Roman het hom gekonfronteer waarna Dondashe losgebrand het.
Tydens die skietery het die assistent 'n boks geld agter die toonbank gegooi en daar weggekruip. Roman is drie keer in die bors getref en is op die toneel dood. Sy assistent het ongedeerd daarvan afgekom.
Dondashe het 'n boks gegryp, waarin hy gedink het daar geld was, en te voet gevlug, maar in stede van geld, was daar slegs glase in die boks.
Die boks met die glase en die vuurwapen is later deur die polisie gevind.
Rehabilitasie nie 'n opsie nie
Dondashe, oorspronklik van die Oos-Kaap, was op parool toe hy Roman vermoor het, en was besig om 'n 17 jaar vonnis uit te dien.
Die staatsaanklaer, JJ Marx, het tydens sy slotbetoë vroeër die maand gesê Dondashe is 'n gewoonte misdadiger van ernstige oortredings en hy dink nie dat rehabilitasie vir hom 'n opsie sal wees nie.
Die reeksnommer van die wapen waarmee hy Roman geskiet het is verwyder, wat aandui dat die roof met voorbedagte rade was. Hy het ook geweet dat Roman sy besigheid se geld in boksies bêre en nie banksakkies gebruik nie.
Die feit dat hy op 'n Maandagoggend, wanneer hulle die naweek se inkomste sou bank, die daad gepleeg het, dui ook daarop dat die roof nie toevallig was nie.
Dondashe het 'n lang lys van vorige ernstige kriminele oortredings wat reeds sedert 1992 strek toe hy op 'n aanklag van roof skuldig bevind en gevonnis is.
In 2008 is hy tot 13 jaar tronkstraf gevonnis op nóg 'n aanklag van roof.
Vroeg in 2009 is hy skuldig bevind op aanklag van die besit van 'n onwettige vuurwapen en ammunisie. In September daardie jaar is hy wéér skuldig bevind op aanklag van roof waarvoor hy tot 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis is.
In April 2010 word Dondashe vir 12 jaar tronk toe gestuur vir nog 'n roof. 10 jaar van dié vonnis word samelopend met sy vorige vonnis uitgedien.

Vorige artikels:
- Boeta's murderer to be sentenced
- Man skuldig bevind aan Boeta se moord
- Boeta-moord: Verdagte was op parool
- Slegs 1 verdagte in Boeta's-moord
- Vermoor vir 'n boks glase
- Man in drankwinkel doodgeskiet
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’