Update
GEORGE NUUS - Haar broer was 'n man wat omgegee het. Nié net vir sy familie nie, maar vir die hele gemeenskap. Só het Charmaine Titus haar broer, Theodore Roman (Boeta) Donderdag 24 Oktober tydens haar getuienis in die hof, beskryf.
Roman (51) is op Maandag 22 Januarie 2018 by sy besigheid, Boeta's Corner, in Nelson Mandela-Boulevard in Borcherds, doodgeskiet.
Roman was die oudste van drie kinders. Sy ma en pa is in 2022 en 2023 oorlede.
"Albei ons ouers was uiters hartseer en getraumatiseer deur sy [Roman] dood, en het nooit aanvaar wat gebeur het nie. Hulle wou altyd weet wat die uitkoms vir Boeta se moordenaar sou wees. In hul harte wou hulle my broer se moordenaar vergewe," het sy gesê.
Luvuyuo Dondashe (45) is op Vrydag 13 September aan Roman se moord skuldig bevind. Hy sal na verwagting vandag, Donderdag 31 Oktober, gevonnis word.
Benewens die aanklag van moord, is Dondashe skuldig bevind aan ernstige aanranding, die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie en die rig van 'n vuurwapen in die openbaar.
Roman het nie banksakkies vir sy geld gebruik nie, maar eerder die besigheid se geld in bokse weggesteek. Op die dag van die moord was hy en sy winkelassistent op pad om geld te gaan bank toe Dondashe hulle binne in die winkel vaskeer en geld eis. Roman het hom gekonfronteer waarna Dondashe losgebrand het.
Tydens die skietery het die assistent 'n boks geld agter die toonbank gegooi en daar weggekruip. Roman is drie keer in die bors getref en is op die toneel dood. Sy assistent het ongedeerd daarvan afgekom.
Dondashe het 'n boks gegryp, waarin hy gedink het daar geld was, en te voet gevlug, maar in stede van geld, was daar slegs glase in die boks.
Die boks met die glase en die vuurwapen is later deur die polisie gevind.
Dondashe, oorspronklik van die Oos-Kaap, was op parool toe hy Roman vermoor het. Hy is in 2005 gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklag van roof in Dispatch.
JJ Marx, staatsaanklaer, het in sy slotbetoë gesê Dondashe is 'n gewoonte-misdadiger van ernstige oortredings en dink nie dat rehabilitasie vir hom 'n opsie sal wees nie.
Hy het 'n lang lys van vorige ernstige kriminele oortredings agter sy naam. Die reeksnommer van die wapen waarmee hy Roman geskiet het, is ook verwyder, wat volgens Marx aandui dat die roof met voorbedagte rade was.
Marx het gesê Dondashe het van die Oos-Kaap na George gekom om dié misdaad te pleeg terwyl hy op parool was en besig om 'n 17 jaar vonnis uit te dien.
"Hy het voorbereid gekom en het geen berou getoon nie. Na my mening is hy nie 'n geskikte kandidaat vir rehabilitasie nie. Hy het sedert 2008 voortdurend ernstige oortredings gepleeg," het Marx gesê.
Die staat het voorgestel dat lewenslange tronkstraf opgelê word.
Theodore RomanVorige artikels:
- Boeta's murderer to be sentenced
- Man skuldig bevind aan Boeta se moord
- Boeta-moord: Verdagte was op parool
- Slegs 1 verdagte in Boeta's-moord
- Vermoor vir 'n boks glase
- Man in drankwinkel doodgeskiet
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’