GEORGE NUUS - Begrafnisondernemers in George is onder groot druk weens die derde vlaag van die Covid-19-pandemie wat nog nie sy piek in die Tuinroete bereik het nie, en Covid-sterftes wat steeds toeneem.
'n Begrafnisondernemer, wat anoniem wil bly, het aan die koerant gesê hulle het binne drie weke ses egpare begrawe waar die man en vrou binne enkele dae van mekaar oorlede is weens Sars-CoV-2.
Unity Aldalgamony, eienaar van Pacaltsdorp-begrafnisdienste, het bevestig dit gaan tans "beroerd". Sy ervaar die derde golf as erger vergeleke met die tweede een in Desember.
"Ondernemers gaan deur 'n verskriklike stresvolle tyd. Ons is onder geweldige druk. Die liggaam van 'n persoon wat Covid gehad het, moet binne vyf dae begrawe word. Dis 'n groot uitdaging."
Die baie sterftes veroorsaak dat die verkryging van doodsertifikate baie keer vertraag word. Aldalgamony sê die kantoor van die departement van binnelandse sake sluit gereeld weens Covid-gevalle.
"Dan moet jy na Mosselbaai of Oudtshoorn toe ry om die sterfte te registreer. Wanneer die plaaslike kantoor wel oop is, staan 'n mens tussen drie ure en 'n halwe dag in 'n tou."
Die las is ook op begrafnis-ondernemers om te sorg dat inperkingsregulasies ten opsigte van onder meer getalle by begrafnisse nagekom word, en sommige kliënte het nie begrip daarvoor nie.
"Dis ook nie maklik om 'n begrafnis binne twee uur af te handel soos die regulasies vereis nie. Dit is 45 minute by die kerk en 45 minute by die graf om rytyd in te pas en die verkeer veroorsaak gewoonlik vertragings. Baie van ons kliënte kan nie die fooie vir 'n verkeersvoertuig bekostig nie, so ons moet nog verkeersman ook speel." Aldalgamony sê hulle ondervind geen tekort aan kiste nie.
Irene Vermeulen van Olivier en Vermeulen Begrafnisdienste en eienaar van die George-krematorium, het gesê hulle is uiters besig. "Daar is nog spasie in die lykshuise en ons het vooraf voorsiening gemaak vir genoeg kiste. Ons het nog nie 'n krisis by die krematorium nie."
Die anonieme begrafnisondernemer het gesê hulle werk lang ure. "Ons syfers is baie dieselfde as in Desember, indien nie meer nie en dit was erg. In Mosselbaai is dit op die oomblik nag en in George is ons ook verskriklik besig."
Hy sê hy en sy personeel is voortdurend bewus daarvan dat hulle in 'n hoërisiko-omgewing werk waar hulle nooit seker kan wees of familielede van die oorledene met wie hulle kontak het, moontlik Covid onder lede het nie.
Begraafplaas
Die George-munisipaliteit het die Yorkstraat-begraafplaas vroeër vanjaar vergroot met addisionele spasie vir 7 500 grafte wat voldoende sal wees vir ten minste die volgende sewe jaar. Blokke is aan plaaslike begrafnisondernemers geallokeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'