GEORGE SAKE NUUS - Die weg is gebaan vir groter samewerking tussen die George-sakekamer, die stadsraad en die munisipaliteit.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die sakekamer, het verlede week met Melvin Naik, George-burgemeester en ander senior leiers van die stadsraad en munisipaliteit ontmoet.
Dit was deel van die sakekamer se uitreik na die stadsraad en die munisipaliteit.
Verskeie aangeleenthede is bespreek. Die onlangse verslag van die ouditeur-generaal, waarin George 'n gekwalifiseerde oudit gekry het, het onder meer ter sprake gekom.
Farrell het by navraag bevestig dat dit plaasgevind het. Hy wou nie die inhoud in diepte bespreek nie, maar het bygevoeg: "Dit was openlik." Dit het plaasgevind nadat die sakekamer se bestuurskomitee 'n mandaat gegee het dat die sakekamer van sy kant baie nou met die munisipaliteit moet saamwerk.
"Ons wil hande vat en saamwerk. Ons wil nie die munisipaliteit se werk oorneem nie. Dit gaan oor uitreik sodat saamgewerk kan word," het Farrell gesê. Volgens hom is die beginsel van samewerking al gevestig.
"Ons het nou gekyk na die inwerkingstelling. Ons wil 'n vertrouens- verhouding vestig. Natuurlik kan daar verskille wees, maar ons wil kyk hoe dinge opgelos kan word.
Dit gaan oor wat in die beste belang van George is. Die sakekamer en sy lede beskik oor kundigheid en hulpbronne en ons is bereid om dit beskikbaar te stel." Daar word gehoop om binnekort 'n memorandum van verstandhouding met die munisipaliteit te sluit. Meer besonderhede sal later bekendgemaak word. So 'n memorandum sal die platform skep vir 'n vennootskap tussen die privaat en openbare sektor. Inisiatiewe vir samewerking is in die pyplyn en meer lig sal in die nabye toekoms daarop gewerp word.
Farrell het benadruk dit het niks te doen met partypolitiek of 'n bepaalde agenda nie. Dit gaan oor die voorspoed van George.
Na verlede week is hy positief dat die uitdagings aangespreek kan word en dat geleenthede benut sal word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'