VGrill het die bekende 1814-kuierkroeg vervang en word oorhoofs deur die broers Charl en Riaan Reeders bestuur, maar die dagbestuurders is Fred Sevenoaks en Irma Breytenbach.
Charl sê VGrill se grootste aantrekkingskrag is ongetwyfeld die lewendige musiek op Vrydag- en Saterdagaande. Nie CD's of 'n blêrende radio nie, maar professionele musikante wat die kliënte op die dansvloer gaan hou. Die bekende duo, Feff en Callie, sorg tans vir die musiek, maar hulle sal ook deur ander kunstenaars afgelos word.
Mense wat musiek ken, sê niemand sing Niel Diamond se liedjies beter as juis Feff Gericke nie.
Hy doen ook "covers" van Creedence Clearwate Revival, die Beatles, Elvis Presley, Engelbert Humperdick en vele ander ouer hande wat die treffersparades in die sestiger- en sewentigerjare oorheers het. Tydlose treffers, met Callie Breytenbach op baskitaar en as agtergrondstem.
Die tipe musiek wat gespeel word, is meer geskik vir volwasse paartjies en enkellopendes. Tafels kan bespreek word en 'n volledige kroeg is beskikbaar. Geen toegangsgeld word gehef nie.
Die spyskaart dek alles van vleis tot hoender en vis. Charl sê die 600 g Espetada vir R99 is die groot gunsteling, maar die hoender Cordon Bleu vir R79 sal meeste vroue in vervoering hê terwyl die 800 g rib die manne trane in die oë sal gee. Van lekkerte natuurlik.
VGrill is van Maandae tot Saterdae oop van 10:00 tot laat. Sondae net tussen 10:00 en 17:00. Die dansers kan op Vrydae en Saterdae teen 19:00 aantree. Maar diegene wat hou van hul sport, kan dit vroeër op die grootskerm-TV kom dophou en solank vir die dansvloer opwarm.
So, as jy jou naweek wil inlui met 'n heerlike aandete en dans tot jou voete brand, besoek VGrill in Yorkstraat. Dis tog veiliger om 'n tafel te bespreek by Fred of Irma. Skakel hulle op 044 873 0238. En kom luister na George se eie Niel Diamond.

Dis die groot uithangplek by VGrill. Die manne wat die kroegdiens beproef, is van links Feff Gericke, Jaco Weideman, Fred Sevenoaks (kroegman en bestuurder van VGrill), Charl Reeders, mede-eienaar, en Pieter Combrink. Foto: Christo Vermaak.