Advertorial
GEORGE SAKENUUS - Onder meer as 200 gaste, 90 lande en 270 restaurante, het ons eie Serendipity in Wilderness, by die World Luxury Spa and Restaurant Awards in Rusland met twee gesogte toekennings weggestap.
Hulle was in die afdeling Country/Regional/Continental/Global, die wêreldwenners met die toekenning vir beste Suid-Afrikaanse cuisine, en die tweede toekenning was vir Fine Dining cuisine in die kategorie vir landswenners.
Lizelle Stolze, die sjef en mede-eienaar sê hul sukses is direk as gevolg van die passie wat hulle het vir wat hulle doen. "Ons geniet wat ons doen terdeë – ons is bevoorreg om in so 'n mooi deel van die wêreld te kan woon. Gaste kom van oor die wêreld om die beeldskone Tuinroete te besoek en Suid Afrikaans-geïnspireerde geregte te geniet."
Lizelle en haar man Rudolf, vertel die World Luxury Restaurants-groep stuur iemand, anoniem, om te kom rondkyk. "Daarna word jy in kennis gestel dat jy genomineer is. Daar is 'n tydperk wat die publiek moet stem. Hulle paneel van beoordelaars stem ook, en dan word die stemme getel." Sy vertel dit is vir hulle 'n baie goeie barometer om te wen, juis omdat die publiek moet stem.
"Ons vra ons kliënte om te stem en dus is dit baie spesiaal om te weet hulle het soveel vertroue in ons. Die toekenning is ook 'n pluimpie vir ons wonderlike span. Dit wys vir ons en ook ons personeel dat ons beslis iets reg doen!"
Die spoggeleentheid is gehou by die State Hermitage Museum Official Hotel in St. Petersburg, Rusland. Hier is die gaste swierig op die rooi tapyt onthaal. "Rusland was 'n baie interessante, vreemde, dog verrykende ervaring. Die prag en rykdom van die vorige eeue is asemrowend. St Petersburg is regtig 'n bucket-list stad."
Die groep se bemarkingsbestuurder, Michael Hunter-Smith, sê ware luuksheid word nie maklik behou nie. "Dit vat hoogs effektiewe en toegewyde personeel, wat bereid is om die ekstra end te stap, en deur niks gestop sal word om seker te maak hul gaste kry die beste."
Lizelle vertel dit is die 4de jaar wat hulle deelneem aan die kompetisie. Hulle het verlede jaar ook die beste Suid-Afrikaanse Restaurant-toekenning verower, maar kon ongelukkig nie daar wees vir die prysuitdeling nie. Dit was toe in Ierland gehou.
"Ons hoop om volgende jaar weer genomineer te word en te kan deelneem."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'