GEORGE SAKE NUUS - Die hoof uitvoerende beampte van die sakereus Remgro, Jannie Durand waarvan die magnaat Johan Rupert 'n nie-uitvoerende direkteur is, is die gasspreker tydens nog 'n unieke sakeontbyt wat op 29 September om 8:00 soos oudergewoonte in die Moedergemeente se kerksaal sal plaasvind.
Hierdie sakeontbyte, waarvan George Herald reeds sedert 2012 mediaborg is, word jaarliks met groot sukses aangebied en roem op sprekers soos Jannie Mouton, Raymond Ackerman en Laurie Dippenaar.
Remgro is 'n beleggingsmaat-skappy en spog met beleggings in Distell, Unilever en Mediclinic, om 'n paar te noem.
Hulle was onlangs in die nuus toe hul 'n lening van R40 miljoen, wat aanvanklik as reddingsboei vir die Westelike Provinsie Rugbyunie (WP) bedoel was, gekanselleer het. Die franchise model van Saru is glo as probleem identifiseer.
Durand sal onder meer gesels oor die Remgro-struktuur, suksesse, mislukkings en lesse daaruit geleer asook die maatskappy se planne in 'n onstuimige ekonomie en wat potensiële beleggers kan verwag.
Gaste sal ook die geleentheid kry om vrae te stel. Kaartjies is beskikbaar teen R120 elk of 'n tafel teen R1 000 (vir 10 gaste). Dit sluit 'n ontbyt in.
Die sakeontbyt word met trots ondersteun deur die volgende borge: Nedbank (hoofborg), George Herald (mediaborg), Cell C, Huizemark, Business Partners en Rauch Gertenbach Prokureurs.
Belangstellendes word aangeraai om te bespreek aangesien kaartjies vinnig uitverkoop.
Skakel Louwrens Selzer by 079 242 4782.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'