GEORGE NUUS - Die jaarlikse George-sakekamertoekennings gaan vanjaar weer plaasvind nadat dit die afgelope twee jaar op ys was as gevolg van Covid-19. Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer, het vandeesweek gesê die glansgeleentheid, waar erkenning aan topsakeleiers gegee word, is 'n hoogtepunt op die sakekamer se kalender.
Vanjaar is daar 'n interessante positiewe voordeel vir die gemeenskap. "Dis belangrik dat die gemeenskap ook seggenskap in die finale keuse het.
"Die gemeenskap sal kan stem en hul stem sal tot 50% tel in die aanwys van die finale wenners. Die ander 50% sal deur die keurpaneel bepaal word," sê Cilliers. Hy het 'n beroep op sakeondernemings gedoen om betrokke te raak by die geleentheid.
"Dis prestige toekennings. Dit help op twee vlakke. Dis 'n geleentheid vir sakeondernemings om te kan groei en dit help om George se ekonomie te stimuleer."
Die geleentheid is laas in 2019 gehou met Nelius van Greunen wat as sakepersoon van die jaar aangewys is. Van Greunen is een van die bekendste landbouleiers in George en 'n vooruitstrewende boer.
Cilliers het gesê vanjaar se geleentheid sal op 21 Oktober plaasvind. Die plek en venue sal later bekendgemaak word.
Daar is vanjaar 'n nuwe kategorie, Mees Innoverende Sakeonderneming. Sakeondernemings wat innoverend opgetree het tydens Covid-19 en daardeur gekom het, sal in die kategorie meeding.
Voorts is daar ook planne vir 'n toekenning aan 'n sakeonderneming/instansie wat goeie diens gelewer het. Cilliers het benadruk dit hoef nie noodwendig 'n sake-onderneming te wees nie, dit kan ook 'n instansie wees soos 'n hospitaal of die polisie.
Volgens Cilliers is die doel van die geleentheid om erkenning te gee aan gevestigde sakeondernemings in George. "Dis mense wat 'n wesenlike bydrae lewer tot die groter George se ekonomie en weer geld in die gemeenskap terugploeg."
Nominasies vir die verskillende afdelings sal binnekort open.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'