Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sakelui wat gehoop het vir goeie nuus op die landswye ekonomiese front tydens 'n sake-ontbyt met die hoof uitvoerende beampte van Remgro, Jannie Durand, as hoofspreker, moes maar ekstra suiker in hul koffie gooi. Ofskoon Suid-Afrika se ekonomie kommer wek, lyk dinge darem heelwat beter in George, het Durand gesê.
Verteenwoordigers van verskeie plaaslike besighede het die geleentheid verlede Vrydag bygewoon, waarvan die George Herald 'n borg was.
Dit is aangebied deur die Garden Route Development Agency en het by die NG Moedergemeente se kerksaal plaasgevind.
Louwrens Selzer, 'n direkteur van die agentskap, het die verrigtinge gelei.
Durand het weggespring met wat hy beskryf as 'n wêreldwye "onsekere ekonomiese omgewing" wat dinge vir sakelui bemoeilik.
Hy het verwys na polarisasie met Donald Trump, verwikkelinge in Europa en politieke onsekerheid in Suid-Afrika.
"Almal kyk na wat in die wêreld aangaan," het hy gesê. "As die ekonomie teen 1% per jaar groei gaan dit 72 jaar neem vir die ekonomie om te verdubbel. Suid-Afrika se bevolkingsgroei is 2,4%.
"Ons kan nie bekostig om ekonomies teen 1% te groei nie," het Durand gesê. Hy het bygevoeg dat George se statistiek ekonomiese groei van 6% toon. Oor 12 jaar gaan die ekonomie dus verdubbel. "Dit is die tipe groeikoers wat ons moet sien in Suid-Afrika," het hy gesê.
"Werkloosheid is 'n groot probleem in die land, met 53% van die jeug wat nie werk het nie. Dit is verskriklik belangrik dat ons ekonomiese groei verbeter. Ons het die swakste ekonomiese groei in Afrika. Ons is swakker as Soendan, die Sahara doen beter as ons."
Durand het gesê mense moet vertroue hê in die regering. "As jy nie mekaar kan vertrou nie, kan jy nie saam werk nie," het hy gesê.
Sy wenke aan sakelui was onder meer om te investeer in iets wat vir jou sin maak. "As jy nie iets verstaan nie, moet jy nie daarin belê nie," het hy gesê. "Verder is dit belangrik dat jy beheer het oor die bestuur van die besigheid. Ons het die grootste sukses behaal in besighede wat ons self begin het, soos tabak en Mediclinic."
Durand het oor die maatskappy se verliese in die hoenderindustrie gesels, ten spyte van die feit dat Suid-Afrikaners baie lief is vir hoendervleis. "Ons is die land waar mense die meeste hoender per persoon eet, ter wêreld," het hy gesê. "Europa hou van borsies, maar in Suid-Afrika hou ons van vlerkies en boutjies."
Daarom stort die wêreld die snitte vir 'n appel en 'n ei in die plaaslike mark. Verder het Durand gepraat oor Remgro se aandeel in WP-rugby.
"Jy kan nie familie kies nie, ons het WP geërf, nie gekoop nie. Ons is almal WP-ondersteuners, ons is emosioneel betrokke. 'n Mens moet nooit emosioneel betrokke raak by 'n belegging nie," het hy gesê.
"Ons eerste les is ons het 24% besit gehad, ons het geen beheer gehad nie. WP word beheer deur 93 klubs."
Kyk 'n video hier:
Remgro is in die 1940's as tabakvervaardiger deur dr. Anton Rupert gestig. Die maatskappy se beleggingsportefeulje het wesenlik ontwikkel en sluit tans meer as 30 beleggingsmaatskappye in. Die maatskappy is genoteer op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE).
Selzer bedank die volgende borge: Nedbank (hoofborg), George Herald (mediaborg), Business Partners, Rauch Gertenbach, Carpe Musicam Orchestra, The Daily Coffee Café, Tokkie Nel, The Busy Bean Stall, Honda,
Cell C en Huizemark.
Lees 'n vorige artikel: Sakelui byeen vir ontbyt
ARTIKEL, VIDEO EN FOTOS: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'