GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-gemeenskapsakevereniging (Community Business Association) het op 3 Desember 'n baie suksesvolle gala-aand gehad. Toekennings is oorhandig aan vier persone vir hulle diens aan die gemeenskap.
Carla Remas het 'n sertifikaat van waardering ontvang vir haar bydrae in die gemeenskap en die steun wat sy bied aan sopkombuise. "Sy is altyd bereid om haar hand uit te steek om mense te help wat in nood verkeer," het die voorsitter, Luwayda Trantaal, gesê.
Joanie Visagie-Jantjies, Blanche Benjamin en Charlotte Edwards het ook sertifikate van waardering ontvang vir gemeenskapsdiens.
Trantaal het gesê Edwards is al vir meer as 30 jaar 'n entrepreneur en 'n voorbeeld vir jong opkomende entrepreneurs.
"Ons as vereniging wil graag almal hartlik bedank wat ons gala ondersteun het deur 'n kaartjie te koop of deur 'n donasie."
Die geld wat ingesamel is, gaan gebruik word om by te dra tot die studies of sakeopleiding van jong studente deur 'n geakkrediteerde diensverskaffer. "Ons nooi ander besighede in en om Pacaltsdorp uit om volgende jaar betrokke te raak sodat ons meer kinders kan help.
Besigheid, skole en kerke het die gemeenskap nodig. Ons het almal mekaar nodig. Ons kan net 'n verskil in ons gemeenskappe maak as ons almal saamwerk."
Sy het 'n spesiale dankie gerig aan die AHi, Frozen Foods, Tikketai, Candidas Events Management, Play Time Events, Prestige, Watsons-slaghuis, Oom Bul's Catering and Events, Soul Food Africa, Vena Fredericks en Olivia Swigelaar.
Gaskunstenaars Veronique Ferndale en Gregory Noble het vir die musiek gesorg.
Joanie Visagie-Jantjies (regs) het ook 'n sertifikaat van waardering ontvang.
Gregory Noble
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'