Op 1 Desember verlede jaar, presies een jaar nadat Atterbury Kunsgalery in Voorbaai, Mosselbaai hulle deure oopgemaak het, het hulle uitgebrei om ook ‘n opwindende eenstop wynboetiek aan kliënte te bied.
Ongeveer 50 eksklusiewe wyn plase word in die boetiek verteenwoordig waar die konsep "boetiek" oor verskeidenheid en kwaliteit eerder as prys gaan. Die boetiek spog met talle uitsoekwyne wat Veritas- en Platter-toekennings ontvang het, maar terselfdertyd is daar ook ander heerlike wyne wat almal se sak pas.
Tydens die afgelope vakansie is gereelde wynproe-geleenthede aangebied, met onder andere Hermanus, Pietersfontein, Anura, Hartenburg, D’Aria, Bon Courage en ons eie plaaslike Jakkalsvlei. Wynmakers, wynkenners en talle vakansiegangers was dit eens dat die wye seleksie wat deur die boetiek aangehou word, van hoogstaande gehalte is en gerugsteun word deur billike pryse.
Benewens die wyne is daar vir die fynproewer ‘n groot verskeidenheid olyfprodukte met handelsmerke soos Kloovenburg en Hillcrest te koop. Definitief ‘n besoek werd!
Mark-ekspo
Daar word beplan om maandeliks ‘n mark-ekspo op die perseel aan te bied en inwoners wat graag wil uitstal, word genooi om dringend met die galery kontak te maak om meer inligting te kry en hulle artikels, produkte of eetgoed aan die organiseerders bekend te stel.
Skakel 044 695 4117 tydens werksure.