GEORGE NUUS - Sowat 1,5 miljoen GO GEORGE-buskaartjies, wat 'n wyle terug op die ashoop beland het, veroorsaak nou probleme vir George-munisipaliteit se departement van finansiële dienste.
Dié kaartjies is vooruit gedruk en was nie meer bruikbaar nadat die nuwe tarief vir busritte in Februarie vanjaar in werking gestel is nie, aangesien die ou pryse op die kaartjies reflekteer.
Die direkteur van finansies, Keith Jordaan, het 'n maand gelede 'n brief van die ouditeur-generaal se kantoor ontvang, waarin dié department in kennis gestel word van vrugtelose uitgawes van sowat R622 000 wat nie deur amptenare in die vorige boekjaar 2016/2017 aangeteken is nie.
Van hierdie bedrag is ongeveer R519 000 te wyte aan die vernietiging van die oormaat buskaartjies.
"Hierdie uitgawe kon verhoed word indien die munisipaliteit die prysverhogings vooraf beplan het en die aanvraag versigtig oorweeg het om sodoende te verseker dat 'n weglaatbare hoeveelheid kaartjies vernietig word," lees die kommentaar van die ouditeur-generaal.
"Daar is opgemerk dat die munisipaliteit nie enige vrugtelose en verkwistende uitgawes in die boekjaar 2016/2017 bekend gemaak het nie.
"Deur die inspeksie van die lêer wat vir oudit ingedien is, is dit egter geïdentifiseer dat die munisipaliteit 'n vrugtelose en verkwistende bestedingsregister met 'n bedrag van R103 063 vir die 2016/17 jaar gehad het."
Hierdie bedrag, sowel as die bedrag vir die buskaartjies, beloop 'n totale bedrag van R621 965,89 wat nie deur George-munisipaliteit as vrugtelose uitgawes aangeteken is nie.
PBI-raadslid Virgill Gericke Foto: Michelle Pienaar
Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag gesê dat George-munisipaliteit al die nodige vrae vanaf die ouditeur-generaal bevredigend beantwoord het.
"(Die munisipaliteit) wag tans vir die finale ouditverslag, wat volgens wet voor 30 November uitgereik moet word," het Botha gesê. " In die lig hiervan gaan die munisipaliteit tans nie verder kommentaar lewer nie."
'n Navraag is aan die kantoor van die ouditeur-generaal gestuur, maar daar word nog op hulle kommentaar gewag.
Die leier van die PBI, Virgill Gericke, doen 'n beroep op die burgemeester, Melvin Naik, om dringend in te gryp.
"Ons kan nie verstaan hoekom die munisipaliteit 'n skoon oudit in die 2016/2017 finansiële jaar gekry het terwyl sulke wanpraktyke aangaan nie," het hy gesê.
"Dit kan die dorp 'n skoon oudit kos."
Gericke reken amptenare het baie laks geword omdat daar nie behoorlike moniterings-meganismes in plek is nie.
"Hierdie proses is 'n totale vermorsing van belastingbetalers se geld.
"Dit is baie swak beplanning deur hoogs betaalde amptenare. Die ironie is dat alhoewel ons elke keer die gebreke uitwys, daar nie 'n wil is om teen hierdie amptenare op te tree nie.
"Hulle word polities beskerm deur die DA-beheerde regering van George."
Gericke het gesê die kaartjies is vernietig sonder dat daar aan die raad gerapporteer is oor die proses wat gevolg is om van hierdie kaartjies ontslae te raak.
"In die regering moet 'n proses plaasvind - die neem van foto's, getuienisse en 'n register - alvorens die proses afgehandel kan word. Nêrens is oor die proses gerapporteer nie."
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'