Sponsored Content
GEORGE NUUS - 'n Gesoute vlieënier en vegvliegtuig-instrukteur is sedert hierdie maand stewig agter die beheerpaneel van AIFA (AVIC International Flight Training Academy) in Oudtshoorn.
Francois (Pikkie) Siebrits is as die vliegskool se hoof-uitvoerende beampte aangestel nadat die vorige HUB, Christo Ebersohn, bedank het om aandag te skenk aan sy eie sakeverpligtinge. Siebrits is reeds meer as drie jaar by AIFA betrokke en is verlede jaar as hoof van opleiding aangestel.
Hy was vir 31 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse lugmag waar hy onder andere vegvlieëniers opgelei het.
Daarna was hy vir etlike jare 'n Boeing 747-vlieënier. Hy het reeds sy stempel by AIFA afgedruk met gespesialiseerde kursusse wat hy vir die studente ontwikkel het.
Volgens Siebrits is een van sy oogmerke om die verhouding tussen die vliegskool en die gemeenskap verder uit te bou.
"AIFA dra reeds by tot verskeie projekte, maar vir my is dit belangrik dat AIFA, die gemeenskap en die owerhede 'n nou band het."
"Ons het ook opleidingsentrums in Beaufort-Wes en George en alhoewel ons aan sommige beperkings ten opsigte van ons vliegure en -roetes in Oudtshoorn blootgestel is, bly die dorp steeds ons hoofbasis."
Volgens hom word 'n gemiddeld van 80 vlieëniers per jaar hier opgelei en word werk aan 75 mense verskaf.
"Net om 'n idee te gee van AIFA se bydrae tot die dorp se ekonomie kan ek noem dat ons ongeveer R550 000 per maand slegs aan akkommodasie spandeer en meer as R1,5 miljoen se salarisse word maandeliks betaal."
Op 'n persoonlike vlak sê Siebrits hy is opgewonde oor sy pos en oor die samewerking van verskillende instansies en die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'