SAKE NUUS - Die privaat gesondheidsorgmark in Suid-Afrika bly sterk en bied potensiaal, ten spyte van toenemende druk op bekostigbaarheid en beleidsonsekerheid, sê dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die Mediclinic-groep.
Van der Merwe was Woensdagaand, 8 April, die gasspreker by ’n sakegeleentheid by die Hawthorn Boutique Hotel wat aangebied is Louwrens Selzer van Selzer Developing Consultants, met Boutique Asset Management (BAM) as borg en George Herald as mediaborg.
Sy praatjie, ‘Die toekoms van private gesondheidsorg in Suid-Afrika’, het gefokus op die impak van nuwe tendense op die bedryf, probleme wat aangespreek moet word en faktore wat hom positief stem.
Mediclinic het ook belange in die Midde-Ooste, Switserland en die Verenigde Koninkryk (VK) en oral word ondervind dat openbare gesondheidsorgstelsels onder druk is en sukkel met kapasiteit en finansiering, het hy gesê.
Die privaat bedryf in Suid-Afrika word egter gekenmerk deur verskeie ligpunte. Hier is ’n sterk befondsingsomgewing met finansieel gesonde mediese fondse, uitstekende infrastruktuur wat hospitale, klinieke en tegnologie betref, asook operasionele doeltreffendheid en kort wagtye vir pasiënte. Suid-Afrika het ook uitstekende kwaliteit van sorg, soos getoon in die meting van kliniese uitkomste in die onderskeie lande.
Van der Merwe het gesê danksy goeie reserweverhoudings wat plaaslike mediese fondse handhaaf, is Mediclinic in Suid-Afrika se uitstaande skuld 26 dae oud, vergeleke met 90 tot 100 dae in Switserland en die Midde-Ooste, waar hulle nie so goed ontwikkel is nie. Hierdie sterk onderbou wat die fondse vir die privaat sektor bied, word egter misken deur die regering se voorstelle vir die Nasionale Gesondheidsorgversekering (NGV), wat sal meebring dat mediese fondse ’n baie kleiner rol sal speel indien dit uitgerol word.
Gaste by die Discovery-tafel, van links: Kerry West, Ingrid van Wyk, Karin Theron, Shannon Barnard, Julie Walker, Regardt Smit en Hannatjie Campher.
Daar is verskeie tendense wat druk plaas op die bekostigbaarheid van gesondheidsorg. Tegnologie wat baie vinnig ontwikkel maak beter sorg en meer behandelingsopsies moontlik deur middel van kunsmatige intelligensie, robotika en gevorderde diagnostiek. Dit lei ook tot veranderde verbruikersgedrag. Pasiënte verwag vinnige, digitale en doeltreffende diens. Verder is daar ’n toename in chroniese siektes wat die vraag na sorg verhoog.
Hierdie bekostigbaarheidsfaktor, swak regulering en ondeursigtige doktersfooie, asook fragmentering in die bedryf is negatiewe elemente wat die hoof gebied moet word. Die NGV is ook problematies weens struikelblokke soos finansiering, praktiese uitvoerbaarheid en teenstrydigheid met die Grondwet.
Van der Merwe glo egter dat oplossings gevind kan word deur samewerking en ’n gedeelde langtermynvisie. Daar kan op so ’n basis in gesprek getree word met die regering oor alternatiewe vir die NGV.
Hy het gesê waar daar sterk samewerking tussen die privaat en staatsektor is, is die kanse beter vir ’n volhoubare en effektiewe gesondheidsorgstelsel.
Dr. Adrian Saville, hoofbeleggingsadviseur van BAM, het in sy praatjie oor beleggingstrategieë klem gelê op diversifisering, veral in onseker tye soos tans met die oorlog in die Midde-Ooste. Buitelandse beleggings behoort ’n komponent van plaaslike beleggers se portefeuljes uit te maak.
Onder die gaste was talle gesondheidsorgpraktisyns. Aan die Investec-tafel was voor, van links: dr. Ryan Bond (ortopeed), dr. Beyers Botha (oogspesialis), Caren Botha (pilatesinstrukteur) en Debbi Bond (fisioterapeut). Agter: drs. Merle Morrison en Francois Roos (albei narkotiseurs).
Skandeer die kode om te kyk na 'n gesprek met dr. Ronnie van der Merwe, Louwrens Selzer en dr. Adrian Saville.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’