Kidz @ Mount View, wat op 20 Mei open, is 'n speelplek en partytjievenue vir kinders op die drumpel van 'n heerlike koffiewinkel waar ma en pa kan ontspan terwyl die kleingoed na hartelus onder toesig kan baljaar. Dit is die breinkind van Chané Labuschagne en Leané du Preez, kinders van Frik en Mariaan Labuschagne, eienaars van die suksesvolle Mount View Resort-ontwikkeling.
Die twee susters het spesiaal 'n reusagtige, drievlak-klimraam uit China ingevoer vir kinders van 3 tot 9 jaar. Peuters tot drie jaar sal besig bly in die peuterafdeling en daar is op die koop toe 'n gesinsfotografiestudio. Die perseel is omskep in 'n ware sprokieswêreld met kleurvolle muurskilderye wat deur 'n professionele kunstenaar gedoen is.
Twee partytjiekamers gaan uitverhuur word vir kinderpartytjies.
Ouers kan kies om self 'n partytjie aan te bied, of hulle kan alles aan Leané, self 'n ma, oorlaat wat 'n legio idees het vir temapartytjies. Sy het BEd in die grondslagfase verwerf en daarna vier jaar in Lichtenburg skoolgehou. Agt maande gelede het sy George toe verhuis om uiteindelik saam met Chané hul droom om hierdie nuwe onderneming saam te begin, te bewaarheid.
Chané, wat 'n BCom in bemarking en kwalifikasie in kommersiële fotografie agter haar naam het, gaan die fotografie behartig en die koffiewinkel, The Coffee Pot bestuur. Sy het ook vir 'n jaar in Suid-Korea Engelsklasse vir kinders aangebied.
'n Professionele sjef, Riana van Wyk sal sorg vir koek, quiches, fynproewersbroodjies en varsgebak. Die binneversiering in 'n rus-tieke, ouwêreldse styl is behartig deur Chané se verloofde, Frikkie du Toit, die eienaar van Tramonto.
Vir die besige ma is hierdie 'n veilige aflaaiplek vir die kleingoed op inkopiedae of wanneer sy 'n gimsessie wil inpas. Twee opgeleide assistente sal 'n wakende ogie hou oor hulle kroos. Ter wille van elke kind se veiligheid, ontvang die ouer 'n kaart wat met sy of haar terugkoms deur 'n kaartleser getrek sal word om te verseker dat 'n kind nie deur 'n ongewenste persoon opgelaai word nie.
Die Mount View Resort-perseel is omhein, weg van verkeer en bied oorgenoeg parkering vir almal wat Kidz @ Mount View besoek.
Vir meer inligting, bel Chané by 082 210 9662.
Leané du Preez (links) en Chané Labuschagne, eienaars van Kidz @ Mount View, by een van die muurskilderye wat een van die partytjiekamers in 'n sprokieswêreld omskep. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'