Werksessies het plaasgevind in Thembalethu, Parkdene, Conville, Pacaltsdorp, Blanco en Uniondale.
By elke werksessie is suksesvolle sakemense uit die gemeenskap gevra om 'n paar van hul geheime tot sukses te deel. Die vroue en die jeug se rol as entrepreneurs is beklemtoon, met spesifieke aandag aan die unieke uitdagings wat vroue in besigheid moet oorkom. 'n Balans tussen die gesin en die bedryf van 'n besigheid is onder meer bespreek.
Die plaaslike ekonomiese ontwikkelingskantoor van George-munisipaliteit is ondersteun deur die Thembalethu Business Partnership, George-sakekamer en The Entrepreneur Navigator. Volgens George-burgemeester, Charles Standers, is konstruktiewe vennootskappe die sleutel tot die dorp se ekonomiese groei.
Tydens elke werksessie is 'n kort opleidingsprogram rondom 'n besigheidsmodel gevolg. Deelnemers het in groepe verskillende besighede se modelle beplan.
Dr. Willie Cilliers, president van die George-sakekamer, het na die model verwys as "'n resep".
"Soos 'n mens 'n resep volg om koek te bak is hierdie die resep vir jou besigheid," het hy gesê.
"As ek enige entrepreneur in die middel van die nag sou wakker maak moet hulle dadelik die resep vir hulle besigheid kan verskaf."
Entrepreneurs is herinner aan die belang daarvan om hul kliënte reg te identifiseer, hul produk te ken, en die verspreiding daarvan en kliëntediens in gedagte te hou. Dr. Cilliers het entrepreneurs gemaan om nie vir regering of ander mense te wag vir geld alvorens hulle 'n besigheid wil begin nie.

Dr. Willie Cilliers (links), president van die George-sakekamer, Mzwandile Gingcana, wyksraadslid vir sone 6 (Thembalethu), Carli Bunding-Venter, munisipale bestuurder vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en Busisiwe Salmani, wyksraadslid vir sone 13 (Thembalethu).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'