GEORGE SAKE NUUS - Die dokterspraktyk in die pragtige Die Huis Artz-gebou op Doneraile Square in George het onlangs 'n derde dokter verwelkom.
Dr. Nicola du Toit het in September by drs. Chris van Niekerk en Amor van Zyl aangesluit en sê sy is ongelooflik gelukkig by dié groot en gewilde praktyk. "Dit voel asof ek die jackpot geslaan het!" vertel sy ingenome.
Du Toit, oorspronklik van Port Elizabeth, het haar mediese graad aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verwerf en drie jaar in Mediclinic George se ongevalle afdeling gewerk. Hier het sy haar tande behoorlik geslyp en bring uitstekende ervaring en kennis na haar nuwe pasiënte.
Al drie dokters by Die Huis Artz is algemene praktisyns en benewens algemene mediese sorg, bied drs. Van Niekerk en Van Zyl reismedisyne, dr. Van Niekerk doen ook beroepsgeneeskunde en dr. Du Toit doen estetiese medisyne soos Botox en vullers.
Dr. Van Zyl het ook die boerpot geslaan en gaan voorlopig elke tweede kwartaal op 'n boot tussen Orlando en die Bahamas mediese sorg aan die bemanning en passasiers verskaf - 'n tydelike aanbod wat eenvoudig te goed was om van die hand te wys! Sy begin haar eerste skof op die boot in Desember, maar haar mediese tuiste bly Die Huis Artz. Na drie maande op die boot sal sy in Maart terug wees in George en dan tot Junie al haar aandag aan die plaaslike praktyk en pasiënte gee. Só verdeel Van Zyl haar dienste tussen George en die boot voor sy weer einde 2018 voltyds by Die Huis Artz sal wees.
Dr. Van Niekerk wens Van Zyl alle sterkte toe met haar eerste drie maande op die wye oseaan en hoop sy word nie te seesiek nie. "Dit is wonderlik om so 'n kundige dokter soos Nicola du Toit hier by ons aan boord te hê en ons wens Amor met 'n geruste hart bon voyage."
Dr. Van Zyl sal in die buiteland steeds per e-pos by amorvz@mweb.co.za bereikbaar wees, maar haar selnommer sal daar verander.
Die Huis Artz se kontakbesonderhede:
- Kamers en na ure: 044 874 1772
- Faks: 044 873 3416
- 5 Donerailestraat, Doneraile Square, George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'