TUINROETE SAKENUUS - Sakekamers soos mense dit ken, sal moet aanpas as hulle nog 'n sinvolle rol wil speel in die huidige omstandighede. Dit is die boodskap van dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap.
Die organisasie het onlangs opnuut besin oor sy toekomspad en die direksie het 'n strategiese werkswinkel gehou. Op die oomblik is daar 46 sakekamers by die AHi Wes-Kaap geaffilieer.
Volgens Cilliers is die primêre rol van die huidige sakekamers onder die vaandel van die AHi Wes-Kaap in die algemeen 'n netwerkfunksie om besighede in dorpe bymekaar te bring. Die organisasie se besture is almal vrywilligers wat teen geen vergoeding dienste verrig en word jaarliks verkies of herkies.
Besighede word lede van die sakekamer en betaal jaarlikse ledegelde. Finansiële volhoubaarheid bestaan nie by die meeste sakekamers om sodoende formele kantore op te rig en personeel aan te stel nie. Sakekamers is ook nie geregistreerde maatskappye nie.
Sodoende kan sakekamers nie aansoek doen vir finansiering nie.
Volgens Cilliers het Covid-19 'n groot veranderde rol van sakekamers vereis en sodoende die nuwe rigting bepaal. 'n Elektroniese kommunikasieplatvorm moes inderhaas in plek gestel word om met sy lede te kommunikeer.
Die deurgee van akkurate inligting oor Covid-19-regulasies was uiters belangrik en moes tydig hanteer word. Baie besighede het nie finansieel oorleef nie en moes noodgedwonge hul deure sluit.
Saam met die netwerkgeleenthede wat sakekamers aanbied sal daar ook doelgerigte projekte aangepak moet word om besighede deur die Covid-19 tyd te ondersteun, maar ook bepaalde dienste aan hul te lewer. Die fokus op diens word 'n belangrike aspek.
Hy het gesê hiervoor sal daar 'n totale nuwe besigheidsmodel vir sakekamers ontwikkel moet word. Hulp sal ook deurlopend aan kleinbesighede binne 'n inklusiewe ekonomie verskaf moet word.
Die vestiging van nuwe besighede (entrepreneurs) is uiters dringend en moet in vennootskap met groot besighede aangepak word. Verder sal 'n sakekamer in 'n dorp die stem moet word vir alle besighede (groot en klein, formeel en informeel) en veral die kanale na en van plaaslike en ander regeringsvlakke.
As beginpunt het die AHi Wes-Kaap besluit om 'n projek in 2021 aan te pak met die tema, AHi RED 10 DORPE. Die projek behels om bestaande en nuwe sakekamers/assosiasies daar te stel en ook by te staan met 'n nuwe model om die plaaslike ekonomie te help groei in 'n inluksiewe omgewing. Meer inligting sal binnekort beskikbaar wees en vier dorpe in die Tuinroete sal hieraan deelneem.
"Die vier dorpe in ons streek vir die RED 10 DORPE projek is voorlopig Knysna, Mosselbaai, Prins Albert asook Ladismith."
Groter duidelikheid hoe die George-sakekamer daarby inpas kan tydens 'n vergadering vandag (12 November) verkry word. Die George-sakekamer is by die AHi Wes-Kaap en ook by SACCI (South Africa Chambers of Commerce and Industry) geaffilieer.
Business Chamber as people know will have to adapt if they still want to play a meaningful role. That is opinion of dr. Willie Cilliers, chairperson the AHi Western Cape. The organization recently looked at the road ahead. Bigger clarity on how the George Business Chamber could fit into the new programmed could be gained today (12 November).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'