GEORGE NUUS - Die bedanking van André de Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom gaan ook in George en die Suid-Kaap gevoel word. So het dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer en die AHi Wes-Kaap, Donderdagoggend by navraag gesê.
Cilliers het gereageer op die bedanking van De Ruyter wat laat Woensdagmiddag bekend geword het.
Volgens Cilliers het De Ruyter se bedanking as ’n skok gekom. Cilliers het deur die sakegemeenskap met die Wes-Kaapse regering interaksie gehad by situasies waarby De Ruyter betrokke was.
Dit het gegaan oor toekomstige energieplanne in die Wes-Kaap. Dit is gebou op die moontlikheid van groenkrag soos windkrag en sonkrag. So-iets sal die Wes-Kaap onafhanklik van Eskom maak.
Cilliers het gesê De Ruyter se bedanking gaan ‘n groot impak op dié planne hê. Dis nie duidelik of sy opvolger dieselfde visie gaan vir die Wes-Kaap gaan hê nie.
Sy bedanking gaan nie die einde van beurtkrag beteken nie.
“Die AHi is van mening dat politieke druk veroorsaak het dat die uiters bekwame De Ruyter die stap moes neem. Suid-Afrika sit in ‘n kragkrisis wat die land geweldig raak. Dit sal ‘n negatiewe invloed hê op ekonomiese groei in 2023.”
“Dis belangrik dat sy opvolger ‘n kundige in die energiewêreld moet wees. Hy/sy sal nie deur politieke druk beïnvloed moet word nie.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'