Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sakeleiers is dit eens dat die koronavirus (Covid-19) 'n drastiese impak op die plaaslik ekonomie gaan hê. Sakeleiers sê daar moet in gedagte gehou word dat toerisme 'n belangrike dryfkrag in die plaaslike ekonomie is en volgens een sakeleier is die eerste tekens reeds sigbaar.
Die situasie is nou erger as voorheen, want van die ondernemings het reeds voor die jongste gebeure klippe gekou.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het Dinsdag gesê hy het kontak gehad met verteenwoordigers van die plaaslike toerismebedryf. Van hulle het reeds 70% kansellasies gehad en van die ondernemings het tydelik hul deure gesluit omdat daar gee besprekings is nie.
Cilliers is bekommerd oor die ekonomiese impak op George. Dit gaan nie net oor mense wat verblyf beskikbaar stel nie. Dit gaan 'n rimpeleffek op kleinsakeondernemings hê wat dienste verskaf, byvoorbeeld ondernemings wat wassery- en skoonmaakdienste aanbied.
As van die kleinsakeondernemings hul deure sluit, kan dit tot werksverliese lei. Dit is belangrik dat mense hul vergewis van Arbeidswetgewing en die Wet op Beroepsveiligheid in die werksplek.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die instansie is van voorneme om binnekort 'n vraelys aan sy lede uit te stuur. Daarin sal gepoog word om vas te stel wat is die werklike uitdagings waarmee sakeondernemings te doen kry.
Volgens hom kan die jongste gebeure instansies op verskillende terreine raak. Minder voete in winkels en ook ondernemings wat produkte invoer en dit dan plaaslik gebruik.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het 'n beroep op mense gedoen om kalm te bly en te kyk na geleenthede wat kan opduik. Ondernemings kan hul produktelyne aanpas en byvoorbeeld goed verkoop wat voorkomend aangewend kan word soos maskers en higiëniese middele. Die gebeure bied ook aan ondernemings geleenthede om hul produkte aanlyn te verkoop.
Hy het benadruk ondernemings moet kyk of hulle 'n besigheidskontinuïteitsplan in plek het.
Prof. Quinton Johnson van die Small Business Forum (SBF) het gesê die virus gaan wêreldwyd en ook plaaslik 'n impak hê. Dis belangrik om dinge in plek te hê om mense en die ekonomie te beskerm. Hy is bekommerd oor veral die impak op toerisme. Mense gaan wêreldwyd minder beweeg.
Alewijn Dippenaar, bekende sakeman en geleentheidsorganiseerder, het die jongste gebeure as een van die grootste ekonomiese terugslae beskryf wat die Suid-Kaap ooit getref het. Dippenaar sou verlede Saterdag na onder meer Europa gereis het om toerisme- en reisskoue by te woon. Pogings sou aangewend word om besoekers te lok. Die besoek is nou uitgestel.
Volgens Dippenaar is die gebeure 'n groot terugslag, maar hy het begrip vir die stappe wat ingestel is. Die gebeure gaan besoekersgetalle raak en dit kan van die ondernemings ruïneer.
Business leaders agree that the outbreak of the coronavirus will have a drastic impact on the local economy. With some of the businesses already struggling before the outbreak of the virus, the situation is now set to worsen. The impact of travel restrictions can already be seen in the local tourism industry, a huge part of the local economy. They recommend that businesses adapt and look for novel opportunities, such as selling their products online.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'