Sy bure is raadop oor fyn sand wat voortdurend oorwaai na hul geboue en volgens hulle skade aanrig en werknemers se gesondheid benadeel. Een buurman, Brand Visser van Hensu Aluminium, was radeloos toe hy die George Herald verlede week na sy perseel geneem het om die situasie te bekyk.
"Ons werk met glas en aluminium en die stof van langsaan dring ons werksplek binne. Ons materiale en klaargemaakte produkte wat ons uitstuur doen krapmerke op. Ons kan nie beskadigde produkte aan ons kliënte uitstuur nie en ons ly geweldig skade," het Visser gesê.
André Duvenhage, handelaarshoof van Hino in Randstraat, is ook ongelukkig oor die stof wat selfs sy vertoonlokaal binnedring en die bakwerk van nuwe voer-tuie beskadig, sê hy. "Daar is fyn metaal ook in die stof wat op my voertuie kom lê en dit roes."
Industriële gebied
Bylsma voel dat hy besigheid doen in die aangewese area omdat dit binne ‘n industriële gebied is.
"My besigheid is stof. Ons is in ‘n industriële gebied en net soos ‘n saagmeule saagsels produseer, is stof ‘n neweproduk van die proses wat ek gebruik. Dit is hoekom ek in hierdie gebied handeldryf. Mnr. Duvenhage het ‘n paar jaar gelede ook gekla toe ‘n steenmakery baie stof hier veroorsaak het. Eintlik hoort ‘n skoon besigheid soos ‘n motorhandelaar nie hier nie."
Winde het ook die afgelope ruk veroorsaak dat die stof na bure oorwaai. Op windstildae is dit nie ‘n probleem nie, het hy gesê.
Maar Bylsma poog tans om die situasie te verbeter. Tydens die George Herald se besoek verlede Vrydag aan Specific Coating, was ‘n laaigraaf besig met grondwerke ter voorbereiding van die perseel om ‘n verbeterde sandspuitproses te skep wat minder stof sal afgee. Bylsma het gesê dit sal die stofprobleem nie heeltemal oplos nie, maar daar sal groot verbetering wees.

Sand wat volgens Brand Visser binne ’n kort tyd opgehoop het op hulle perseel weens die stof wat van die sandspuitstelsel langsaan oorgewaai het
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS