Update
GEORGE NUUS - 'n Aanduiding van die belangrike toekomspad van sakekamers in plaaslike gemeenskappe, behoort verkry te word by die AHi Wes-Kaap se kongres wat op 3 en 4 November in George gehou word.
Dit sal deur verteenwoordigers van sakekamers vanoor die provinsie bygewoon word en vind by die Protea Hotel King George plaas.
Die organisasie wat voorheen bekend was as die AHI, het in die verlede diep spore in die sakewêreld getrap.
Die kongres begin op Donder-dagaand, 3 November, met 'n galageleentheid waartydens toekennings vir prestasies in die sakewêreld gemaak sal word. Van die toekennings wat gemaak gaan word is vir onder meer kleinsakeonderneming van die jaar en sakekamer van die jaar.
Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van AgriSA, is die geleentheidspreker. Lede kan stem en hul stemme tel 50%. Die ander 50% word deur die beoordelaars bepaal.
Die volgende dag gaan daar kopstukke gepraat word oor onder meer die rol van toekomstige sakekamers. Paneelbesprekings sal plaasvind en die klem is op interaktiwiteit. Aanwesiges sal vrae kan vra.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter/uitvoerende hoof, het by navraag gesê die laaste keer wat 'n kongres van aangesig tot aangesig plaasgevind het, was in 2019. Dit kon daarna nie in die formaat plaasvind as gevolg van Covid-19. Dit het verlede jaar virtueel plaasgevind.
Volgens Cilliers is een van die temas van die kongres die rol van toekomstige sakekamers. Daar sal gekyk word na die uitdagings van sakekamers en hoe om dit te belyn vir toekomstige uitdagings. Japie Gouws, vorige uitvoerende hoof van die ATKV, sal tydens die sessie die geleentheidspreker wees.
Daar sal ook 'n paneel-bespreking wees. Daaraan sal deelneem Van der Rheede, Solly Fourie, 'n voormalige hoof van ekonomiese ontwikkeling van die Wes-Kaapse provinsiale administrasie en Ivor Price, mediapersoonlikheid en 'n direkteur van die AHi.
Een van die ander temas is die rol van kleinsake in die plaaslike ekonomie en die hoofspreker tydens die sessie is Divan Botha, aanbieder van die TV-program Winslyn op kykNET.
Cilliers het benadruk die doel van die konferensie is om te besin oor die rigting vorentoe. Resolusies gaan oorweeg en aanvaar word.
Volgens hom is die AHi steeds relevant en het hom gevestig in die gemeenskappe. Hy het hom belyn as sleutelspeler in die plaaslike- en provinsiale regeringsfere.
Die Vrydagmiddag kom die algemene jaarvergadering aan die beurt waartydens 'n oorsig van die organisasie se aktiwiteite die afgelope jaar gegee sal word.
Hy het 'n beroep op mense gedoen om die kongres by te woon. Daar is beperkte sitplekke.
Dit kan gedoen word by www.myahi.co.za of stuur e-pos aan info@ahiwc.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'