AGRIKULTUUR NUUS - Bredasdorp is besig om vere reg te skud vir die jaarlikse NAMPO Kaap Ekspo wat vanjaar van 13-16 September 2023 aangebied word deur Graan SA en Bredasdorp Park NPC op Bredasdorp Park.
Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park Direksie is daar 60 addisionele uitstalruimtes in die Voermolsaal ingerig.
Besoekers en uitstallers kan ook uitsien na ‘n nuwe eetplek en koffiestalletjie in die Voermolsaal. Die rasuitstallings, wat voorheen in die Voermol Saal geakkommodeer is, word vanjaar in ‘n vee-tent gehuisves, agter die Voermol- en BKB-sale.
Daar is ook 10 nuwe standplase vir buiteuitstallers langs die Shellsaal ingeruim. Buiten die bestaande eetplekke en kosstalletjies waar besoekers heerlik kon smul en die dors les, is daar ook addisionele kosstalletjies wat bykom, wat beteken dat besoekers net nog meer van ‘n keuse het van waar om te eet en die dors te les.
2023 Merino Ope
Die Merino Ope word aangebied deur Streek 9 van Merino SA op 14 en 15 September in die BKB Veesentrum. Dit is oop vir alle Merino stoet-, sowel as kudde elers. Volgens DeWe Giliomee, een van die organiseerders, gaan hierdie ‘n innoverende, prestige geleentheid wees met interessante pryse en toeskouer-deelname.
Perdeprogram
‘n Hoogtepunt waarna besoekers aan NAMPO Kaap 2023 kan uitsien is daaglikse vertonings deur die beroemde Suid-Afrikaanse Lippizaners. Hierdie wit hingste sal besoekers betower met hul asemrowende bewegings. Fusion Horsemanship sal opleidingstegnieke vir perde demonstreer, die ruiters van Griffins Horse Achery lewer boogskutvertonings, daar gaan ‘n verskeidenheid perde rasuitstallings wees, en al die verskillende rasse gaan daaglikse aan ’n optog deelneem. Lede van die Overberg Ponieklub sal ook weer ponie-ritte vir die jongspan aanbied.
Groen Energie-revolusie
Die tema vir NAMPO Kaap 2023 is Groen Energie-revolusie en ‘n verskeidenheid van die nuutste tegnologie in die groen-energie sektor sal ten toon gestel word om besoekers die geleentheid te gee om die verskillende opsies wat beskikbaar is deeglik te kan opweeg.
Museum Tent
Nog ‘n nuwe aantrekking by NAMPO Kaap 2023 is ‘n toegewyde museumtent waar 19 van die Wes-Kaapse museums gaan uitstal. Besoekers sal kan sien hoe dinge in Toeka se Dae gedoen is met verskeie demonstrasies soos broodbak ens.
Uitsonderlike blommeprag
NAMPO Kaap is bekend vir die uitsonderlike blommeprag. Marjolijn Malan se indrukwekkende blommerangskikkings sal beslis nie teleur stel nie. Die tema vir vanjaar se blomme skouspel is “Waar twee oseane ontmoet in die seekat se tuin” en Marjolijn gaan die seelewe met blomme uitbeeld. Besoekers sal ook weer die geleentheid kry om te stem vir die rangskikking van hul keuse. Die Shell-saal sal ook weer gevul wees met ‘n fees van die Overberg se fynbos.
Landbou vir die toekoms
Die toekoms van landbou is baie hoog op die agenda vir NAMPO Kaap 2023. Die NAMPO Kaap Skoleprogram wat in 2022 van stapel gestuur is, het gegroei tot ‘n geleentheid vir 300 leerders, van skole wat landbou as vak aanbied. Hier kan die leerders dit wat hulle in die klaskamer leer aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun.
Die jaarlikse Overberg Streeksjeugskou vind plaas op Saterdag, 16 September. Leerders kan inskryf vir die volgende klasse: Suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns en suiwelbereiding. Seuns en meisies tot 17 jaar neem deel in drie ouderdomsgroepe: junior-junior (5 tot 9 jaar), junior (10 tot 13 jaar) en senior (14 tot 17 jaar).
Vir die skoner geslag
Die vroueprogram met Mynhardt Joubert, Willem Botha en Jak de Priester beloof om ‘n fees van verleidelike kos, mooimaak geheime en bekoorlike musiek te wees. Die NAMPO Kaap instap-skoonheidsalon was ‘n groot treffer in 2022 en sal weer ‘n geleentheid bied waar vroue kan ontspan en die behandeling van hul keuse kan geniet terwyl die manne hul aan die nuutste landboutegnologie verlustig.
Sien jou daar!
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar vanaf 1 Julie 2023 by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag, 13 tot Vrydag, 15 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 16 September van 08:00 – 15:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za
Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, besoek www.expo.org.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ‘n e-pos aan admin@expo.org.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’