Gallery
GEORGE NUUS - Die 2019 George-landbouskou was weereens 'n sukses.
Skouvisepresident Christo Fourie het gesê van die stalletjies het gekla dat Donderdag en Vrydag stil was, maar Saterdag was daar 'n "buitensporige" groot opkoms. "Die mense moes buitekant parkeer, soveel besoekers was daar. Ons wil net dankie sê aan al ons ondersteuners en elkeen wat die skou besoek het.
"Ons het 'n e-posadres geskep waar mense kan terugvoer gee - terugvoer@georgelandbouskou.co.za. Ons sal ag slaan op die terugvoer en waar nodig, sal ons verbeter."
Die Wes-Kaapse landbouminister, dr. Ivan Meyer, het die skou Donderdag besoek om die amptelike opening waar te neem en by 'n manneontbyt op te tree. Die provinsiale departement van landbou was weer betrokke en het 'n program aangebied vir opkomende boere. Topgehalte diere is in die diereafdelings vertoon.
Senior burgers het 'n spesiale geleentheid geniet waar Andriëtte Norman die gaskunstenaar was en vir vroue was daar 'n program waar die Mosselbaaise skilder, Maria Oosthuizen van House of Maria, en sangeres Brigitte Deister opgetree het.
Kyk na my!
Kunstenaars soos Brendan Peyper, Michael Lindt en Wicus van der Merwe was van die groot trekpleisters. "Ons was ook baie bevoorreg om plaaslike kunstenaars ook hier te kry en om kykNET se Fiësta-filmspan by die skou te verwelkom," het Fourie gesê.
"Die kaartjieverkope is bietjie af, maar dit is werklike syfers want dis deur Computicket verkoop. Ons kan nou net van hier af opbou en nie op verlede jaar se syfers gaan nie," het Fourie gesê.
"Oor die algemeen was almal baie gelukkig. Mense het wel gekla oor die toegangsgelde, maar alles wat die skou aangebied het, was die R70 (vir volwassenes) werd."
Hoe hoër, hoe beter vir Liniq Geldenhuys wat geen bang haar op haar kop het nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'