Verlede jaar het die organiseerders begin om die landbou-afdeling weer sterk te vestig as een van die hoofaantrekkingskragte van die skou in 'n poging om sy eertydse status van volwaardige landbouskou terug te bring. Dit was 'n baie suksesvolle poging en meer as 8 000 besoekers, ongeveer 1 000 mense meer as die vorige jaar, is deur die hekke. Die organiseerders was tevrede en talle uitstallers wou nie hul deposito's terughê nie sodat hulle dadelik weer hul plek vir 2013 kon bespreek.
Gert Pretorius, die skoupresident het gesê dat hulle inderdaad nou stadig maar seker besig is om die landbousektor terug te kry. "Ek dink die publiek sien ons wend 'n daadwerklike poging aan om vir die mense van die dorp 'n kwaliteitaanbieding daar te stel en ons gaan vanjaar hierop voortbou."
Daar sal vanjaar soos altyd 'n interessante vroueprogram wees en in die huisvlytafdeling sal die skoner geslag hul slag kan wys. Die diereafdelings sal weer pragskoudiere ten toon stel en 'n groot verskeidenheid stalletjies, opwindende kunstenaars asook industriële en landbou-uitstallers word in die vooruitsig gestel.
Stalletjie-eienaars en mense wat uitstallings na die skou toe wil bring, kan nou reeds hulle plek bespreek. Bel Susan Willemse by 082 881 3305 vir meer inligting of besoek www.georgelandbouskou.com.
Die 2013 skoukomiteelede is van links voor: Tinnie Dirks, Susan Willemse, Gert Pretorius (president), Wilma Smith, Celia de Villiers; middel: Dennis Schley, Ronel Smith, Andre O'Connell, Ronell Lubbe, Willie Ward; agter: Tokkie Nel, Michael Damster en Hannes Cilliers. Afwesig: Leon van Rooyen, Gerry Lenferna, Pieter Aucamp en Jurie Wessels.