TUINROETE NUUS - SA for Hope organiseer weer 'n uitreik na droogteteisterde boere op Saterdag 7 Mei, hierdie keer na Kleynspoort/Rooiheuwel, 'n area tussen Oudtshoorn en De Rust.
Kospakkies, voer en water gaan vir 100 boere- en werkersgesinne geneem word. Voerbale en mielies word dringend benodig, en as dit nie geskenk word nie, sal SA for Hope moet aankoop teen 'n koste van ongeveer R100 000, sê Pieter du Plessis, 'n direkteur van die organisasie.
"Ons is totaal afhanklik van skenkings en kontantinbetalings. Ons verwelkom dit egter as mense iets skenk en dan sommer saamry op die uitreik, want dan kan hulle sien waarheen hulle donasies en skenkings gaan."
SA for Hope gaan ook 'n plaaslike skooltjie in die omgewing, Rooiheuwel Primêr, help. "Daar is 100 leerders wat ons graag wil help met 'n bederfboksie met skryfbehoeftes, seep, tandeborsel, waslappie, speelding en dergelike items in. Ons wil ook vars vrugte en gebottelde water saamneem."
Die dorre veld in die Oudtshoorn-omgewing.
Du Plessis sê dis hartverskeurend om te aanskou hoe eens groen landerye in die Oudtshoorn-omgewing nou net stof is.
"Die droogte dwing boere en hul werkers op hul knieë. Die meeste moes hul werkers laat gaan en doen nou alles self - die bietjie wat nog gedoen kan word. Baie boere het ander werk gaan soek en die vrou moet alleen die plaas aan die gang hou met die salaris wat hy op 'n ander plek gaan verdien. Arbeiders sit sonder 'n inkomste en verlaat ook plase waar sommige al drie generasies saam boer. Ons vra dat mense moet bid."
Hy doen 'n beroep op die publiek vir skenkings of praktiese betrokkenheid. Hulle het altyd mense nodig wat help om die goedere en voer te vervoer.
SA for Hope se boekhouers is Cilliers Accountants. Hulle kan 18A-belastingsertifikate uitreik aan ondernemings wat skenkings maak. Bel Pieter du Plessis by 076 844 6435 vir meer inligting.
Die Oudtshoorn-streek is vasgevang in etlike jare se droogte. Die verskil tussen 'n lowergroen landskap in 2014 vergeleke met 2019 tot en met 2022 is hartverskeurend.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'