Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Absa se senior landbou-ekonoom Wessel Lemmer, het by 'n manneontbyt verlede Donderdag by die skou gesê opnames toon dat 80% van boerdery-ondernemings wat misluk, nie die paal haal nie weens egskeidings en verbrokkelende egpaarverhoudings.
Hy het navorsing aangehaal wat toon dat faktore soos droogte, lae ekonomiese groei en beleidsonsekerheid nie gekeer het dat landbouproduksie groei nie.
Negatiewe sentiment weens hierdie faktore loop gewoonlik hand-aan-hand met 'n laer randwaarde en boere moet dit eerder as 'n geleentheid sien om uitvoere op te stoot as om daaroor wakker te lê.
Op plaaslike bodem is voedsel die vinnigste groeiende vervaardigingsektor, en dit is te danke aan die boere se bydrae. Suid-Afrika is die vierde goedkoopste voedselproduseerder danksy toenemende produktiwiteit in die landbou.
Lemmer het gesê hy voorsien dat Eskom se probleme gaan bly, maar dit skep geleenthede in die alternatiewe kragverskaffingsektor. Die groeikoers waarheen minister van finansies, Tito Mboweni, in sy herstelplan mik, sal slegs moontlik wees as energiebeskikbaarheid in 'n surplus is. Hy het gesê die landbou het 'n baie groot rol te speel in Mboweni se plan.
Kyk 'n video hieronder:
Toegang tot meer internasionale markte
Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die belangrikheid van die provinsie se bydrae tot landbou beklemtoon. Hy het by die manneontbyt gepraat voordat hy die lint geknip het om die skou amptelik oop te verklaar.
Meyer het gesê die Wes-Kaap lewer 45% van die land se landbou-uitvoerprodukte. Die provinsie beslaan slegs 10% van die land se totale oppervlak en het 10% van die bevolking, maar 26% van die land se plaaswerkers en 20% van kommersiële boere is hier.
Volgens die Buro vir Ekonomiese Ondersoek word die meerderheid van Suid-Afrika se landbouprodukte na die res van Afrika uitgevoer, maar Meyer se visie is dat die Wes-Kaapse regering boere sal help met toegang tot meer internasionale markte.
Ander prioriteite van die departement is opleiding en navorsing, ondersteuning van boere, die gebruik van nuwe tegnologie om die impak van klimaatsverandering op landbou te minimaliseer, en landelike veiligheid.
"My hart bloei as ek hoor van plaasmoorde en die brutaliteit daarvan. As ons ernstig is oor voedselsekuriteit, moet ons boere meer liefde ontvang. Daarom het ek #Virdieliefdevanlandbou geskep. 'n Interministeriële komitee is ook gestig wat op landelike veiligheid fokus. Fondse is reeds aan distriksmunisipaliteite toegeken om veiligheid op plase te bevorder."
Hy het gesê die Wes-Kaapse regering het vanjaar R1 miljard vir landbou begroot.
George-landbouskou se president, Corné Botha (links) het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse landbouminister, op 'n toer van die skouterrein geneem. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'