Angorabokke, die winsgewende diere wat die gesogte sybokhaarvesel produseer is nie ‘n algemene gesig in die Noordelike dele van Suid-Afrika nie, en kom meestal voor in die Karoo area met Willowmore, Graaff-Reinet, Jansenville, Aberdeen en Murraysburg as die grootste produserende gebiede.
Die bewusmakingsveldtog van Angorabokke werp sy vrugte af met die blootstelling van die meer as 70 000 besoekers wat NAMPO oor die vier dae besoek. Hierdie jaar se stêr by die Angorastalletjie, was die 9-maande oue hansbokkie, Mia wat haar eie fotohoekie gehad het. Die besoekers van jonk tot oud, van plaaslik tot uit Amerika het tougestaan om ‘n geleentheid saam met die kameravriendelike bokkie te kry.
Terselftertyd was hierdie ‘n opvoedkundige geleentheid om besoekers in te lig oor die bedryf aangaande sybokhaarproduksie vanaf die bokkie se geboorte tot die vesel op die winkelrakke in ‘n sybokhaarproduk verskyn. Die uitstalling van die Angoras van Grootfontein Studente Angorastoet, die rou tot geprosesserde sybokhaar, en produkte wat te koop beskikbaar was by die CMW stalletjie, gee besoekers die hele veselketting ervaring.
Die Sybokhaarmark ervaar die afgelope paar jaar voortgesette sterk groei. Die grootste bydrae tot hierdie uitstekende groei is die feit dat Sybokhaar geïdentifiseer is deur die ingeligte verbruiker as die volhoubare luukse natuurlike vesel vir die toekoms.
Suid-Afrika is die grootste produserende land van sybokhaar in die wêreld met ongeveer 2.4 miljoen kilogram van die 4.1miljoen kilogram wat wêreldwyd geproduseer is (volgens die 2015 statistieke).
Die vraag na dié edele vesel groei teen 'n snelle koers en die aanbod in alle skeersels is baie gunstig vir die produsente. Die bokhaarpryse het die afgelope 5 jaar van R104.16 per kilogram vir die somerseisoenskeersel in 2011 verhoog na ‘n gemiddelde markaanwyser van R240.15 wat in die laaste somerveiling in 2016 gehaal is. Dit is ‘n noemenswaardige styging van 131%.
Graaff-Reinetter Petrie Maré, bestuurder by SASKV sê dat die hele ervaring as uitstaller by die NAMPO Oesdag altyd verwagting oortref. Die puik organisasie van die fees en die getalle wat die fees jaarliks lok, bied die bedryf uitstekende blootstelling en raak elke jaar beter. Die groter stalletjie waarin die Angora’s hierdie jaar was, het baie meer belangstelling gelok en Angoraprodusente en potensiële produsente het waardevolle eerstehandse inligting van teenwoordigers van die SASKV wat die stalletjie beman gekry.
Die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV) is die produsente-organisasie wat Angorabokboere ondersteun en hom beywer vir hulle taak. Hierdie dienste sluit in die spesiale aanstelling van 'n bedryfveearts om te fokus op die gesondheidsbehoeftes van die Angorabok. Die organisasie bied ook gespesialiseerde navorsing oor die gesondheidsfaktore van dié bokke. Produsentedae word gehou in die verskillende distrikte wat advies en inligting aan boere bied om te onderhou en te stimuleer.
