SUID-KAAP NUUS - Twee polisielede en 'n veediefstaleenheid van die Suid-Kaap is deur Agri Wes-Kaap vereer vir hulle bydrae om landboumisdaad te bekamp.
Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee vereer elke jaar tydens die Jaarkongres (vanjaar gehou op 27 Julie) lede en eenhede van die SAPD vir hulle bydrae tot landelike veiligheid in die provinsie.
Beste veiligheidskoördineerder
Vanjaar se toekenning vir die beste landelike veiligheidskoördineerder is aan sers. Alan Adams, sektorbevelvoerder: landelike veiligheid van Uniondale oorhandig.
Kapt. Morné Heunis, SAPD-gebiedsbevelvoerder, sê sers. Adams het die afgelope jaar verskeie dwelmarrestasies in die landelike gebiede gemaak deur middel van 252 operasies, wat duidelik daarop wys dat hy deur die jaar konstant besig was met sy polisieringsaksies in die landelike gebiede.
Hy dien die gemeenskap ook ywerig deur middel van misdaadbewusmakingsprojekte om 'n beter en veiliger landelike omgewing te verseker, veral met die klem op ouer persone en misdade teen vroue en kinders. Hy doen ekstra moeite om kinders in die gemeenskap te bemagtig deur verskeie bewusmakingsaksies by plaasskole waar pamflette uitgedeel word om skoolveiligheid, waterveiligheid, dwelm- en drankmisbruik, en seksuele misdrywe aan te spreek.
Mnr. Johan Bothma, Agri Wes-Kaap se algemene bestuurder, het sers. Adams bedank vir die besondere en lojale diens wat hy aan landbouers in die Wes-Kaap lewer.
Beste lid van 'n veediefstaleenheid
Vanjaar se toekenning vir die beste lid van 'n veediefstaleenheid is aan sers. TS Moletsane oorhandig vir sy uitsonderlike bydrae as lid van die SAPD Beaufort-Wes veediefstaleenheid.
Hy het die BKB-wisseltrofee en sertifikaat ontvang. Die ses veediefstaleenhede in die provinsie nomineer hulle kandidate en motiveer dit aan die hand van produksiegegewens van die onderskeie lede. Sers. Moletsane is vereer vir sy uitsonderlike bydrae om misdadigers aan die kaak te stel, te arresteer en voor die hof te bring.
Beste veediefstaleenheid
Die BKB-wisseltrofee vir die beste veedief-staleenheid in die Wes-Kaap is aan die Oudtshoorn-veediefstaleenheid toegeken. Die beoor-deling word jaarliks aan die hand van die SAPD se produksie-inligting vir die 2016/2017 boekjaar van al die veediefstal-eenhede in die provinsie gedoen.
Sersant Moletsane by Theunis Smit (voorsitter van die provinsiale veediefstalkomitee) en Hein Vollgraaf (bestuurder by BKB) aan die regterkant.
Sersant Adams by kapt. Morné Heunis (links) en Johan Bothma, Agri Wes-Kaap se algemene bestuurder. Foto's verskaf deur Agri Wes-Kaap.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'