Update
GEORGE NUUS - Die George-landbouskou vier vanjaar 160 jaar wanneer dit van 27 tot 29 Augustus onder die tema 'Van Toeka tot Nou' aangebied word.
Skoupresident Corné Botha, is opgewonde oor 'n aantal nuwe idees en veranderings wat hulle vanjaar in werking wil stel by die grootste landbouskou in die Wes-Kaap.
Wanneer die stof van die beesvertonings laatmiddag gaan lê, gaan die beestent vanjaar vir die eerste keer dien as 'n venue waar ligte klassieke musiek uitgevoer sal word met onder meer die George-mannekoor.
Mense sal ook 'n uitstalling van plaaslike kuns kan geniet terwyl kaas en wyn bedien word.
"Ons hoop dat dit vir ons gesofistikeerde besoekers 'n aantrekkingskrag sal wees. Ons nuwe BBP-area sal ook in die beestent gesetel wees sodat die beoordelaars en ander beamptes letterlik die voorste sitplek sal hê tydens vertonings. Die Vroue-Landbouvereniging wat by die huisvlytafdeling betrokke is, gaan ook hier uitstal."
Die trekkerafdeling is vanjaar baie groot. "Omdat dit die jaar 2020 is, gaan ons 20 trekkers, 20 implemente en 20 enjins die fokuspunt by die ingang van die skou maak. Hiermee saam gaan interessante memorabilia soos ou karrings en afskeiers te sien wees," het Botha gesê.
Oog op pensteek-wêreldkampioenskappe
Die skouraad is verder besig met onderhandelings om in 2021 moontlik gasheer te speel vir die pensteek-wêreldkampioenskap wat volgende jaar in Suid-Afrika aangebied word.
"Ons het ons bod ingesit nadat KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap gekies is as moontlike venues. Indien ons in Mei hoor dat ons die bod gewen het, sal die provinsiale kampioenskappe by vanjaar se skou plaasvind as 'n proeflopie. Ons hou styf duim vas, want dit gaan 'n groot inspuiting vir George beteken."
Nog 'n nuutjie is 'n outentieke plaaswerf waar kinders van naderby met plaasdiere kan kennismaak en kan leer waar hulle kos soos melk vandaan kom. Die Agri-werkerskompetisie word weer aangebied. Verlede jaar het die skouraad die toekenning ingepalm as beste presterende streek uit 16 streke.
Corné Botha (regs) lei 'n bespreking met plaaslike boere. Van links is Gerrit van der Merwe, Johan van Greunen, Daniël Veldman en Isaac Ntoto, 2018 se Wes-Kaap Prestige Agri-werker van die Jaar. Foto's: Louis Visser
Gospelvertoning
Op Sondagoggend, 30 Augustus, word 'n gospelvertoning aangebied uit dankbaarheid vir die onlangse reën en vir die skou wat 160 jaar gespaar is. Skougangers kan verder uitsien na 'n "verfriste" jeugskou met Japie Coetzee aan die stuur van die program en Aurora Fourie wat gaan help met die kulinêre kunskompetisie waarheen skole uitgenooi word.
'n Besige sportprogram, ovaalbaanrenne die Saterdagaand, heerlike musiekvermaak, verskeidenheid van stalletjies en kinderaktiwiteite en kompetisies beloof om weer duisende mense deur die hekke te laat stroom.
Verwante artikel: Vars planne vir George-Landbouskou
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'