GEORGE NUUS - Die Outeniqua-skoukomitee hou vanaand, Donderdag 20 Februarie, 'n bekendstelling van die 2020 George-landbouskou wat van 27 tot 29 Augustus plaasvind.
"Vanjaar is vir ons besonders, want ons vier die skou se 160ste bestaansjaar. Ons tema is gepas, 'Van Toeka tot Nou'," sê die skoupresident, Corné Botha.
Die skou het van 1860 gegroei tot een van die grootste landbouskoue in die Wes-Kaap. Kaartjieverkope deur Computicket wys dat die skou verlede jaar ongeveer 13 000 besoekers ontvang het en volgens Botha beoog hulle om skougangers vanjaar weereens nie teleur te stel nie. Daar is iets vir oud en jonk.
Botha sal vanaand onder meer opwindende nuwe idees vir die beesarena bekendmaak en die moontlikheid dat die skou in 2021 gasheer kan speel vir 'n aanskoulike internasionale perdegeleentheid. Hy wou nie meer verklap nie.
Viljé Maritz, akteur en televisieaanbieder, is vanaand die seremoniemeester. Ander spesiale gaste sluit in Isaac Ntoto, wenner van die Wes-Kaapse Prestige Agriwerker 2018-titel, 'n plaaslike jong boer Danël Veldman, megaboer Johan van Greunen en 'n boer van "toeka se tyd", Gerrit van der Merwe. Hulle gaan meer vertel van hulle ervarings in die landbou.
Botha sê stalletjiebesprekings kan nou reeds gedoen word.
Skakel die skoukantoor by 044 873 4165.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'