Volstruise is sinoniem met Oudtshoorn en ten spyte van terugslae in die bedryf is dit steeds die ruggraat van die Klein-Karoo se ekonomie, wat ook sterk ondersteun word deur die saadbedryf. Watter beter manier kan daar dus wees as om die nuwe maatskappy bekend te stel as met smullekker gebakte volstruis.
Die besondere gereg wat volstruis tandoori gedoop is, is voorgesit tydens die bekendstelling van die nuwe maatskappy Zaad wat gevolg het op die samesmelting van Klein Karoo Saadbemarking (KKSB) met die voedselreus Zeder.
Die funksie is gehou in die lowergroen tuin van KKSB se nuwe hoofkantoor op die perseel in Van der Rietstraat waar Kango Wyne voorheen gehuisves was, en die gaste het behoorlik gesmul aan die sappige volstruisvleis wat volgens Johan Stumpf, uitvoerende bestuurder van KKI, maar vir die tweede keer ooit ter wêreld op so 'n wyse voorberei is.
Drie volstruise is Vrydagoggend met kruie en speserye gegeur en met knoffelhuisies gestop voordat dit met foelie toegedraai is, met ogiesdraad bedek is en elkeen met 50 kg pottebakkersklei toegepak is. Omstreeks 14:00 is die voorbereide volstruise op 'n laag kole in drie vuurputte geplaas, met kole omring en met sinkplaat bedek om stadig gaar te bak.
Intussen is die nuwe maatskappy Zaad, wat ontstaan het na KKSB se samesmelting met Zeder, bekendgestel. Die luisterryke geskiedenis van KKSB, wat 11 jaar gelede begin het in die gebou waarin Ostrimed vandag gehuisves word, tot op hede met die verskuiwing van die maatskappy na die ruim perseel in Van der Rietstraat is toegelig. Die agtergrond van voedselreus Zeder, wat behoort tot die PSG Groep, is ook kortliks geskets.
Na die bekendstelling is die sowat 160 gaste, wat bestuur en personeel van die maatskappye, produsente en ander rolspelers in die bedryf ingesluit het, na die gelaaide kostafels waar Stan Hohowski en Ries Dempsey die gaar volstruise aan die opsny was. Die geurige volstruisvleis is saam met Nostalgie se heerlike toekos voorgesit.
Die gaste kon nie daarin slaag om al drie gaar volstruise op te eet nie, en die derde een is aan Eljada Kairos Skool geskenk.
Die voorbereide volstruise is in foelie toegedraai, met ogiesdraad omhul en met pottebakkersklei toegepak voordat dit in vuurputte gebak is. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'