Faan Cronje (80) van Gert Greeff-tehuis in Willowmore:
My vrou is drie jaar gelede oorlede en ek het nie geweet waarheen nou nie. Ek kon nie meer met my Sassa-pensioen my verblyf bekostig nie. Toe daag 'n engel op en reël dat ek tydelik by 'n omgeemens in Danabaai kan gaan woon, waar ek toe twee maande darem 'n tuiste kon hê.
Na die twee maande is ek terug George toe en woon toe vir vier maande by 'n vriendin en haar man. Intussen het hulle gehelp om vir my plek in 'n ouetehuis te soek.
Op 1 Mei 2023 het ek plek by Gert Greeff-tehuis in Willowmore gekry. Die vriendin en haar suster het alles gereël en my toe by die tehuis gaan aflaai.
Was dit nie vir hierdie mense nie, sou ek nooit die matrone, Annamarie, ontmoet het nie. Ek is baie vriendelik deur Annamarie ontvang en het sy my sommer dadelik tuis laat voel.
Ek wil graag vir Annamarie baie dankie sê vir wat sy vir my in hierdie laaste paar maande beteken het. Met haar wonderlike persoonlikheid en geaardheid gee sy om vir al die inwoners hier by die tehuis.
Sy is altyd baie vriendelik en behulpsaam, wat haar die wonderlikste en aantreklikste vrou op aarde maak wat ek nog ooit ontmoet het.
Ek het verlede jaar geval en moes dringend mediese sorg vir my heup ontvang. Sy het my onmiddellik na die hospitaal hier in Willowmore geneem, waar sy met die hulp van dr. Cappaert gereël het dat ek in die provinsiale hospitaal opgeneem word vir 'n operasie.
Dankie aan dr. Cappaert, dr. Pieterse en suster Conradie by die George-hospitaal, asook al die personeel wat my deurentyd met soveel respek en liefde behandel het.
Dankie ook aan al die susters en personeel by Gert Greeff-tehuis vir julle vriendelikheid en behulpsaamheid wat hulle my bied terwyl ek bedlêend is en wag vir die finale heupoperasie.
Annamarie is ook 'n volwaardige pastoor en sy neem elke Sondagoggend ons eredienste waar. Ek wil ook in besonder die vier susters bedank vir hulle omgee vir my toe ek van Gauteng af teruggekeer het: Hannetjie Gawler, Marie Steyn, Sonnet de Jager en Marthie de Jager. Hulle is wonderlike mense om te ken. Ek waardeer alles wat hulle vir my doen en beteken.
As julle ooit twyfel waarheen om te gaan as die tyd aanbreek, kom gerus Willowmore toe, hier is altyd plek vir oumense wat nog baie liefde wil hê en wat ook baie liefde kan uitdeel.
Willowmore is die beste versorgingstehuis vir ons oumense!