GEORGE NUUS - Plaaslike inwoners is geskok deur die derde bedanking uit die DA-raad in George nadat dit vanoggend rugbaar geword het dat die party se hoofsweep, Theresa Jeyi, by die Patriotiese Alliansie (PA) aangesluit het.
Jeyi is gisteraand, Donderdag 13 November, deur die president van die PA, Gayton McKenzie self in sy party verwelkom. Sy het dit op haar Facebook-blad aangekondig met ’n video waarin sy en McKenzie in jolige luim verskyn. McKenzie was gisteraand in George.
Raadslede Brendon Adams en Marchell Kleynhans het in Oktober kort ná mekaar ook die blou party verlaat om die groen T-hemp van die PA aan te trek.
Jeyi kon nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.
Die DA het reeds sy meerderheid in die raad verloor met Adams en Kleynhans se bedanking.
Ná Jeyi se bedanking, het die party 24 setels uit 55 en saam met een setel van sy alliansievennoot, die ACDP, het hulle 25. Die opposisie het 27 setels.
Volgens ’n waarnemer wat anoniem wil bly, bly die DA en ACDP aan bewind van die raad. Die opposisie kan besluit om ’n mosie van wantroue teen die burgemeester in te stel, maar slegs tydens ’n gewone raadsvergadering, wat volgens die Munisipale Stelselswet slegs een keer per kwartaal gehou mag word. Die huidige kwartaal se vergadering het reeds plaasgevind en die raad gaan in Desember in reses. Die poste bly intussen vakant.
Tertuis Simmers, die DA se provinsiale leier het by navraag gesê, "Enige persoon het die volle reg om hul politieke tuiste te kies, en ons respekteer haar keuse.
"Vir ons bly die fokus onveranderd: om goeie regering, stabiliteit en kwaliteit dienslewering in die Wes-Kaap te verseker. Die DA is ’n sterk, verenigde span wat elke dag hard werk om die vertroue van alle inwoners te verdien.
"Ons sal aanhou bou aan ’n party wat mense met integriteit, werksetiek en ’n passie vir diens lok. Die afgelope paar weke se beweeglikheid verander nie ons mandaat of ons momentum nie. Ons groeikoers in die Wes-Kaap en die hoeveelheid nuwe, talentvolle leiers wat aansluit, bevestig dat ons op die regte pad is. Ons wens me. Jeyi die beste toe met haar pad vorentoe."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’