Die tak, onder die bekwame leiding van Tracey Weideman as voorsitter, was vanjaar vanuit die staanspoor gemotiveerd om 'n verskil te maak. Dit het vrugte afgewerp, want nie net is hulle as tak vereer nie, maar hulle Kerrie en Kuier-projek ten bate van die George-studiefonds is ook aangewys as projek van die jaar.
Met hulle onwrikbare toewyding aan die rentevrye studiefonds en 'n reeks suksesvolle plaaslike inisiatiewe het die tak uitmuntend presteer.
Hulle fokus daarop om studente in hulle gemeenskap te ondersteun en die studiefonds volhoubaar te versterk, het duidelik gewys in elke projek wat hulle aangepak het.
Volgens Regina Koekemoer, wat aangewys is as sekretaresse van die jaar, is die taklede 'n gedugte span wat te alle tye saamwerk en mekaar ondersteun.
Die George-tak se volgehoue samewerking met hul plaaslike netwerke was 'n kernfaktor in hul sukses.
Hulle vennootskappe het waardevolle bydraes gelewer tydens nasionale, streeks- en takprojekte - alles met die doel om opleiding, ondersteuning, geborgenheid en welstand in hul gemeenskap te bevorder.
Amelia Lang, die ondervoorsitter, sê: "Ons is vrywilligers wat toegewyd is aan ons roeping en altyd bereid is om te dien deur die ekstra myl te stap."
Surina Raubenheimer, een van die taklede, sê die gemeenskap se dankbaarheid en ondersteuning is vir hulle 'n inspirasie om nog meer te doen. Hulle harde werk om werwing te versterk en hul betrokkenheid uit te bou, dra by tot 'n blywende nalatenskap van hoop en diensbaarheid in George.
"Ons wil ook hiermee ons opregte dank uitspreek teenoor ons borge wat die Kerrie en Kuier-projek moontlik gemaak het. Sonder julle ruim bydraes sou hierdie sukses nie moonlik gewees het nie," sê Raubenheimer.
Enige persoon is welkom om teen so min as R50 per maand ‘n verskil te maak en hoop te bring. Kontak vir Regina by 082 935 6271, Amelia by 072 274 5419 of Tracey by 063 758 0595 vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’