Trisa Hugo van Kleinmond:
My suster is ongeveer twee maande gelede na Rosemoor Tehuis vir Bejaardes, en suster Charmaine Titus (die hoof) en haar span se werk beïndruk my mateloos.
Ons wil graag aandag vestig op 'n dringende behoefte by die tehuis waar ons geliefde inwoners voortdurend uitdagings in die gesig staar as gevolg van beperkte hulpbronne. Baie van hierdie weerlose individue is afhanklik van volwasse inkontinensie produkte, soos doeke, om hul waardigheid en gemak te behou.
Die tehuis ondervind egter voortdurend 'n tekort aan fondse, aangesien die meeste inwoners min tot geen inkomste het nie, wat dit moeilik maak om hierdie noodsaaklike items aan te koop.
Ons het almal 'n bejaarde in die familie of vriendekring. Waardigheid is só belangrik as mense oud en weerloos word. Dink jouself in, jy kan jouself nie meer help nie, en jy het nie toegang tot die nodige produkte om jou droog en skoon te hou nie.
En dink aan die personeel in 'n plek wat die mense versorg? Veral waar fondse altyd kort, in plekke waar inwoners nie self genoeg fondse het vir versorging nie.
Hoe kan jy help?
Gaan na die Facebook-blad, Rosemoor Home for the Aged. Daar is 'n skakel waar jy volwasse inkontinensie produkte by Takealot kan bestel en by Rosemoor kan laat aflewer. Die afleweringsadres is: Rosemoor Huis vir Bejaardes (die rooi dak), Attakwastraat 2, Rosemoor, George, 6529.
Jy kan ook Checkers Sixty60 gebruik.
Hierdie behoefte raak veral dringend gedurende die wintermaande, wanneer gesondheidsrisiko's toeneem en die vraag na hierdie produkte styg. Daar is tans 56 inwoners wat inkontinensie produkte benodig.
U ondersteuning - hetsy deur die skenking van volwasse inkontinensie produkte of finansiële bydraes - sal 'n groot verskil maak om die welstand en waardigheid van die inwoners te verseker. Saam kan ons warmte, sorg en troos bied aan dié wat dit die nodigste het, want ons almal verdien troos en waardigheid in ons goue jare.
Deel ook asseblief die Facebook-inskrywing op jou blad!