Publisiteitsfoefie of werklike vooruitgang?

Eugene Gunning, George:

Toe ek in Februarie 2008 na George gekom het, ek altyd vir mense spottenderwys gesê een van die min dinge wat ek van die mooi plek aan die voet van die Outeniquaberge weet is dat dit PW Botha se wêreld was.

Natuurlik was daar toe baie gemengde gevoelens en standpunte oor hom. En meer as 17 jaar later is dit steeds so. Belangrik is dat wyle Botha oor die jare gehelp het om George op die "map te plaas" en bekend te maak.

Oor die jare het ek tot die besef gekom dat Botha baie vir die gebied gedoen het. Dit was lank sy Volksraad-kiesafdeling in die vorige politieke bedeling en hy het diep spore hier getrap.

Dit word algemeen aanvaar dat deur sy toedoen die George-lughawe hier gebou is. Dis 'n moderne en gerieflike lughawe. Onthou dit gerus as jy dit gebruik. Van die ouer garde veral kan vertel van die groot werk wat hy hier gedoen het.

Ek weet dat die muntstuk ook 'n ander kant het. Daar is mense wat die gevolge van die apartheidsbeleid gevoel het en nie baie positief oor hom voel nie. Botha was immers die NP-leier. In die verband kan egter genoem word dat hy wel die deure vir noodsaaklike politieke verandering oopgemaak het met die driekamerbedeling. 

Dit was 'n beginpunt.

Natuurlik was apartheid verkeerd en kan nie verdedig word nie. Die debat wat nou (weer) woed om die straat wat sy naam dra te wil verander is myns insiens vreemd. Dis niks anders as 'n publisiteitsfoefie en selfs politieke opportunisme nie. 

Ek kan nie anders as om te onthou dat daar later vanjaar 'n munisipale verkiesing moet plaasvind nie.

Die huidige debat is nog verder onvanpas gegewe huidige gebeure. Een van die grootste uitdagings in George die afgelope paar jaar is nou juis aan die orde van die dag: 'n waterkrisis. Hoe 'n naamsverandering sou kan help om die watersituasie aan te spreek, weet ek nie.

Die verlede is nog in baie opsigte met ons en kan ek verstaan dat sommige dit nie kan vergeet nie. Die verlede is immers pynlik, maar kom ons soek oplossings vir die hede en die toekoms.