GEORGE NUUS - "Oumense kan nie rus nie, babas kan nie slaap nie." "Voertuie ry of dit 'n renbaan is." "Daar is geen vermaak vir die kinders nie."
Dit is van die klagtes wat Vrydagoggend tydens 'n vergadering tussen inwoners van Proteapark en Levallia, die polisie, George-burgemeester Browen Johnson en raadslid Jacobus Gertse ter tafel gelê is.
Van geraas en dwelmaktiwiteite tot onwettige vullishope, oorgroeide gras, kabeldiefstal en kinders wat tydens skoolure rondloop - inwoners sê probleme in hul woonbuurt eis hul tol en dat daar dringend aandag nodig is.
Gertse, wat aktief by wyk 5 betrokke is, het die vergadering op versoek van die gemeenskap belê.
Dit het Vrydagoggend, 14 Augustus, by Proteapark se munisipale kantoor plaasgevind.
George-raadslid Jacobus Gertse (links) en sektorbestuurder ao. Denver Strydom van Conville-polisie. Foto: Michelle Pienaar
Johnson het gesê hy beplan om saam met die polisie en die gemeenskaps-polisiëringsforum op patrollie te gaan om self te sien hoe sake in die gebied daar uitsien.
Volgens Johnson is baie van die probleme daarin geleë dat kwessies tussen verskillende munisipale departemente en owerhede rondgeskuif word.
"Straatsentiteite werk in silo's. Hierdie is George-kwessies, en nie eie aan Proteapark nie," het Johnson gesê.
Wat die gebrek aan plekke vir kinders om hulself te vermaak betref, het Johnson gesê daar is geen rede waarom die einste munisipale gebou waarin die vergadering plaasgevind het, nie ook vir jeugprogramme ingespan kan word nie.
"Hierdie is 'n spasie wat ons kan gebruik."
Johnson het ook gesê die munisipaliteit bestee jaarliks miljoene rande om kabels te vervang wat weens kabeldiefstal gesteel word. "Dit is geld wat ons op die jeug kan spandeer! Kom ons vat George se strate terug," het Johnson gesê.
George-raadslid Jacobus Gertse (links) en sektor-bestuurder ao. Denver Strydom van Conville-polisie. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’