GEORGE NUUS - ’n Man is aangekeer nadat hy glo ’n ander man ná ’n rusie by ’n dansplek in Courtenaystraat, met ’n voertuig omgery het.
Die 34-jarige verdagte het vandag, Maandag 17 Augustus, in die George-landdroshof, verskyn terwyl die 31-jarige beseerde man in die hospitaal behandel word vir hoofsaaklik kopbeserings.
Besonderhede rondom die hofverskyning moet nog bevestig word.
Die voorval het Vrydagoggend, 14 Augustus, omstreeks 01:55 plaasgevind. George-polisiebeamptes was besig met patrollies in Courtenaystraat toe hulle van ’n rusie buite ’n perseel in kennis gestel is.
Met hul aankoms het hulle die man aangetref wat glo deur die voertuig getref is. Hy is vir mediese behandeling na die hospitaal geneem.
Die bestuurder, wat steeds op die toneel was, is deur die polisie in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord en dronkbestuur.
Die polisie se ondersoek na die omstandighede rondom die voorval duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’