GEORGE NUUS - Lede van die Outeniqua-kwiltersgilde span jaarliks hulle talent met lap, naald en gare in om terug te gee aan die gemeenskap.
By ’n spesiale byeenkoms op Saterdagoggend 15 Augustus het hulle weer so gemaak en ’n groot aantal kwilts en ander items aan nie-winsgewende organisasies oorhandig.
Die skenkings, wat onder meer hondekussings, kankersorgsakke, vroetelvoorskote en ‘Little Quilts of Love’ ingesluit het, vorm deel van die gilde se 40ste verjaardagviering onder die tema ‘Dankie’.
Die gilde se 163 lede behoort aan sowat 10 kleiner groepe wat gereeld saamkom om aan hul kwiltprojekte te werk.
Elke groep maak jaarliks items wat aan ’n verdienstelike organisasie van hul keuse geskenk word. Omdat die gilde vanjaar ’n besondere mylpaal bereik, is besluit om dié jaar se skenkings tydens een spesiale geleentheid saam te bring.
Onder die ontvangers was die ACVV, Heuwels Rust-versorgingsoord, Groenkloof Liefdadigheid, Masithandane-sentrum, Emmaüs, Up With Down’s, Jura Care, Groot-Brak-kinderwelsyn, Odin, die Dierebeskermingsorganisasie en Cansa.
Van die mees aangrypende skenkings is die ‘Little Quilts of Love’, wat aan ouers gegee word wat die ondenkbare verlies van ’n baba by geboorte ervaar en met leë arms huis toe moet gaan. Dit is 'n projek wat wêreldwyd deur kwiltersorganisasies ondersteun word.
Sonja de Wet (middel) het hierdie mooi kwilt gemaak. By haar is Barbara Onderweegs (links) en Suzanne Schreuder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’