So genoem, is die bedoeling duidelik jy is dom en verkeerd. Dis in skrille kontras tot die uil as simbool van wysheid. Reeds lank gelede was die uil die eervolle kenteken van die stad Athene, fokuspunt van 'n versameling slim mense, vir hul tyd ver vooruit. Die stad is juis vernoem na die beskermgodin, Atena, wat direk geassosieer was met uile.
Daar's heelwat uil-sêgoed in Afrikaans. 'n Uil op 'n kluit is veronderstel om verleë en verlore te wees. Uile sit egter selde op kluite. Tog dikwels alleen, moontlik vandaar die vergelyking. 'n Uiltjie knip, is 'n kort slapie. Uile maak kort slapies, ook afgesonderd. 'n Uil onder die kraaie verwys na "the laughing stock of all". 'n Uilskuiken: baie dom. En dan - nie onder 'n uil uitgebroei nie, beteken iemand is nie so dom soos hy/sy lyk nie.
Ek is erg geskok. Daar is steeds gemeenskappe waarin geglo word dat 'n uil wat hoe-hoe roep op die dak, 'n sekere voorteken is dat iemand in die huis binnekort gaan sterf. Dan word uitgestorm met ligte, fakkels, wat-ook-al, om die beweerde bose boodskapper te verdryf. Uile is egter van die mees fassinerende, wel misterieuse roofvoëls.
As ek en my vrou, Hanien, 'n uil in die donker hoor roep, storm ons graag uit om naby te kom, die lieflike geluide direk te geniet en die roeper, asook die maat na wie die roep uitreik, in die donker op te spoor. Ongelukkig het verwerplike bygelowe en 'n skokkende gebrek aan kennis baie gedoen om reuse-vervreemding tussen mens en uil te versterk. Ons is juis so baie verskuldig aan hierdie merkwaardige, onskuldige nagvoëls wat help teen skadelike muise en slange wat moontlik ongebreideld in menigtes in ons omgewing kan aanteel.
Erkenning gaan hiermee aan Peter Ginn (leierkundige oor voëls en uitmuntende fotograaf) van Denneoord, wat inligting aan my bevestig het oor plaaslike uile. Die Gevlekte Ooruil (Spotted Eagle Owl) is ons mees algemene voorkoms in die Suid-Kaap - redelik groot, grysbruin, liggeel oë, yl vlekke, fyn dwarsstrepies. Hul kom in pare in 'n verskeidenheid habitatte landswyd voor - bosveld tot voorstede. Sit selfs snags op geboue en duik af vir kos. Hul is omnivore wat ook insekte, klein voëltjies en klein soogdiere verorber. Mannetjies roep "hoe-hoe", waarop wyfies "hoe-hoe-hoee" antwoord. Terwyl alle uile relatief bedreig is, is die Gevlekte Ooruil minder bedreig omdat dit hoogs aanpasbaar is. Hulle word ongelukkig te veel deur motors getref, waar hulle kos vind en vreet. Ginn sê: Verminder spoed en toet, eerder as om ligte te flikker of vol aan te sit. 'n Paar het jare lank nesgemaak in 'n denne-reus aan die oostekant van die botaniese tuin, teenaan die spoorlyn. Hulle is doelbewus deur bose mense versteur. . . . om ewe "op te gradeer" en in Fernridge nes te skop!
So, leer asseblief die verskillende uilsoorte beter ken en waardeer. Volgende keer praat ons verder oor uile. Hulle kan maar 'n uil inbring in my stadswapen 'n teken dat ons slim weet waarheen ons met ons plek wil gaan!