'n Pluimpie vir Hester by motorlisensies

Elize van Wyk, Tuiniqua-inwoner, skryf:

Ek en my seun van Australië, Eugene de Grey, wil graag vir Hester van die George-munisipaliteit se motorlisensieafdeling diep uit ons harte bedank vir haar professionele en vriendelike diens op Dinsdag 27 Januarie.

My motor moes verkoop word, maar Eugene wat in George was vir 'n kuiertjie, se tyd om dit vir my te hanteer was baie beperk. Sy vlug terug na Australië was Donderdag 29 Januarie en ons was in 'n penarie, want die oorspronklike registrasiedokument van die motor was verlore. Sonder dit sou die verkooptransaksie nie kon plaasvind nie.

My seun het by die lisensiekantoor uitgevind dat daar nie 'n ander uitweg was nie as dat ek in persoon soontoe moes gaan om te verklaar dat ek die wettige eienaar is sodat ons 'n afskrif van die oorspronklike dokument kon kry. Dis vir my baie moeilik om uit te gaan, want ek is nie meer baie mobiel nie en ek het dus gestres oor die situasie.

Ek was egter verniet bekommerd. Daar gekom, het Hester Engelbrecht, wat ons bedien het, die dokumente wat ek moes onderteken na my toe gebring waar ek in die motor in die parkeerarea gewag het. Sy was professioneel, maar deurentyd vriendelik en deernisvol.

Ek en Eugene wil haar graag prys vir haar kundigheid en behulpsaamheid. Sy het 'n ervaring wat vir ons baie stresvol was, pynloos gemaak en hy kon die motortransaksie betyds afhandel voordat hy sy vlug moes haal.