GEORGE NUUS - Die tweede etensuurkonsert in die Lentereeks word op 20 Oktober tussen 13:00 en 14:00 in die NG Moederkerk, George, aangebied.
Die kunstenaars is Anina Wasserman (koloratuursopraan) en Stern Bezuidenhout wat haar op klavier begelei.
Anina het haar musiekgraad cum laude behaal en daarna haar sangstudie voortgesit in Duitsland, Italië en die VSA. Sy is 'n veelsydige en gewilde sangeres van opera, operette, oratorium en lieder, en haar optrede as Lucia (Lucia di Lammermoor) en Violetta (La Traviata) word beskou as hoogtepunte in haar loopbaan.
Stern Bezuidenhout se kwalifikasies sluit in 'n BMus by Noorwes-Universiteit, nagraadse studies in die VSA, asook 'n voordraglisensiaat by Unisa. Onlangse optredes (pre-Covid) sluit in die Piano Extravaganza, asook 'n solovertoning, in die Brooklyn-teater. Benewens sy loopbaan as solis, stel hy intens belang in kamermusiek en werk gereeld saam met instrumentaliste en sangers.
Die etensuurprogram sluit bekende lieder en arias uit operettes en blyspele in, bv. I could've danced all night en Someone to watch over me.
Toegang is gratis, maar donasies sal waardeer word. Maskers word vereis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'