Boshoff, wat eers 'n hartomleidingsoperasie, twee beroertes en verskeie terugslae moedig oorleef het, sterk tans aan nadat beide sy bene as gevolg van gebrekkige bloedsomloop in die Mediclinic George geamputeer moes word.
Hoewel die amputasies 'n traumatiese besluit vir hom en sy gesinslede was, was dit die enigste uitweg om sy lewe te red.
Nadat hy 'n suksesvolle hartomleidingsoperasie ondergaan het, moes hy weer terug hospitaal toe vir 'n tweede operasie as gevolg van komplikasies wat ingetree het.
Terwyl hy besig was om tuis aan te sterk, het hy twee beroertes gehad wat hom vir die afgelope 14 maande aan die bed gekluister het. Sy toestand het gaandeweg agteruit gegaan totdat komplikasies in beide sy bene ontwikkel het.
"Dit was vir hom sowel as vir ons 'n baie moeilike besluit, maar die amputasie van sy twee bene was die enigste logiese uitweg om sy lewe te red," vertel sy vrou, Annatjie.
Die Boshoff-egpaar was vir baie jare die groot dryfkrag agter die sukses van jukskei in George en die SWD.
Beide het hul Protea-kleure ontvang en Kobus het die nasionale mansspan aangevoer.
Later is hulle ook in die SA vete-ranespanne ingesluit en het beide die mans- en damesspanne in verskeie internasionale wedstryde verteenwoordig waartydens Kobus ook die spankaptein was.
Kobus het op 5-jarige ouderdom begin jukskei speel en in 1958, op 15-jarige ouderdom, is hy in die SWD juniorspan ingesluit wat aan die SA Junior Kampioenskappe in Kroonstad deelgeneem het.
In 1961 word hy vir die seniorspan van SWD gekies.
Na skool het hy by die destydse departement van gevangenis aangesluit en verteenwoordig verskeie Unies soos WP Mans A in 1964, OP Mans B in 1965, Noord-Vrystaat vanaf 1966 tot 1975 as kaptein, SWD Mans A vanaf 1976 tot 1996 as kaptein en die SWD-veterane se A-span vanaf 1997 tot 2010 as kaptein.
Gedurende 1971 word hy gekies as kaptein van die Suide-streekspan tydens die SA Spele en verower die goue medalje, in 1969 tot 1974 word hy vir die Vrystaatstreekspan gekies wat ook gedurende hierdie tydperk die streekkampioenskappe twee keer wen.
In 1992 ontvang hy sy sy Springbok-kleure en in 1993 word hy op die ererol van Jukskei SA geplaas vir voortreflike diens. In 1996 en 2000 word hy deur Jukskei SA aangewys as veterane speler van die jaar.
In 1995 verower Kobus en sy maat die goue medalje in die mans-pare afdeling en in 2000 word hy in die SA Meestersspan as kaptein opgeneem wat aan die Wêreldspele in Swakopmund deelneem en verower die silwer medalje.
In 2002 verower hy en sy maat die goue medalje in die veterane-pare afdeling.
Met Kobus as kaptein van die span verower die SWD-veterane span die goue medalje in die veterane afdeling tydens die SA kampioenskappe in 2001 en 2005.
In 2006 word Kobus aangewys deur die departement van sport as sportman van die jaar.
Op plaaslike vlak is hy 'n stigterslid van Korrektiewe Dienste-jukskeiklub en is vir etlike jare die voorsitter van die klub, vanaf 1978 tot 1996 visepresident van SWD-jukskei-unie, vanaf 1996 tot 2002 President van die unie en dien nog altyd op die uitvoerende bestuur.
Vanaf 1994 tot 2001 is hy visepresident van die Kaapland Jukskeistreek en vanaf 2002 tot 2007 president.
Kobus word in 2001 in die Pre-sidentsviertal span opgeneem en is in die SA veterane span vanaf 1995 tot 1999 en 2002 tot 2003 ingesluit asook 2006 en 2008 as kaptein.
Kobus was ook vir 11 jaar kaptein van die SA meestersspan.
Hy dien jukskei sy lewe lank en was ook baie by junior jukskei betrokke sedert 1977 tot 2010 waartydens
(meestal as voorsitter van SWD se junior bestuur). Hy is lewenslange visepresident van SWD Jukskei en is sedert 1977 die sameroeper van die SWD junior keurkomitee.
Boshoff is 'n gekwalifiseerde afrigter en sedert 1980 was hy die sameroeper van die SA keurkomitee tydens die verkiesing van SA o.16 en o.19 skolespanne.
Daar is ook verskeie spelers wat al hul SA kleure verwerf het wat deur hom afgerig is soos sy eie dogter, Louise, wat ook al haar nasionale kleure saam met haar man, JT le Roux, verwerf het.
Sy eggenote, Annatjie was verskeie kere in die SA span en SA veterane-damesspan en was ook al SA dames enkelspelkampioen.
Sy ander dogter, Henda Jordens, is die SA nasionale dogters o.16 afrigter, voorsitter van SWD Junior Komitee asook voorsitter van SWD Oosstreek.
Haar dogter, Johane, wat tans in die nasionale o.16-span is, het al verskeie kere die goue medalje tydens die SA Junior Kampioenskappe verower. Sy verteenwoordig ook Kaapland tydens die SA Junior Kampioenskappe.
Henda se seun, Johann Jordens, het op 10-jarige ouderdom SWD in die o.19 seuns afdeling in 2012 tydens die SA Junior kampioenskappe verteenwoordig en is in die SA o.13-span opgeneem.
Kwikkie Boshoff, soos hy ook onder sy vriende bekend is, se skeie sal nooit weer teen die penne klap nie, maar sy nalatenskap in jukskei is onuitwisbaar.
Die Springbok Boshoffs, Kobus en Annatjie by hul dogter, Louise le Roux (regs), wat ook die nasionale jukskeispan verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'