Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital en aanbieder van die M-Netprogram Sakegesprek, het as gasspreker opgetree. Willem het Theo om advies genader tydens die skryf van die boek en toe hy die uitnodi-ging later ontvang om as spreker op te tree, het hy nie gewyfel om ja te sê nie.
Willem vertel in sy boek die stories van 39 plaaslike entrepreneurs - hoe hulle hul ondernemings van die grond af gekry het, van hul hindernisse en uitdagings, moeilike besluite wat geneem moes word en van die aanhou en uithou wat van 'n entrepreneur vereis word.
Hierdie ontluikende skrywer is al vir die afgelope agt jaar mentor vir sakelui en het in dié proses 'n passie vir besigheid en besigheidsmense ontwikkel.
Die saadjie vir sy boek is gesaai toe 'n ander plaaslike dominee, die voormalige politikus Chris April sy lewensverhaal vir Willem vertel het. "Ek was vasgenael en het hom aangemoedig om dit neer te skryf. Terselfdertyd het ek besef dat baie mense nooit hulle eie stories vertel nie."
Die gedagte om plaaslike besigheidsmense se stories neer te pen het begin posvat. Soos wat hy onderhoude gevoer het, het 'n patroon na vore gekom in die manier waarop hierdie mense hulle ondernemings benader. Uiteindelik kon hy 12 gemeenskaplike beginsels eien wat almal toepas om hul besigheid te maak werk. Hierdie beginsels word agterin die boek gelys.
Willem het Maandagaand vertel dat die skryfproses baie keer soos "'n lang gesukkel" gevoel het. "Ek is nie 'n skrywer nie en is vreeslik lief vir praat en kuier. Ek haat dit om agter 'n rekenaar te gaan sit en sal altyd iets anders soek om te doen. Op 'n stadium het dit gevoel of die stories nie wou vloei nie."
Maar aanhouer wen, en die produk van sy arbeid is plaaslik uitgegee deur Breakthrough Publishers, 'n nuwe onderneming waarby Willem ook betrokke is.
"Dit was vir my 'n wonderlike voorreg om hierdie mense se stories te vertel. Ek is trots op die boek en dit is vir my lekker om dit vanaand te vier," het hy gesê.
Hy het boonop van elkeen wat in die boek opgeneem is, 'n portret geskilder, wat dit selfs 'n meer besonderse ervaring vir beide skrywer en sy 'onderwerpe' gemaak het.
Van die persone wat in die boek verskyn, sluit in Graeme Rob van Mustbuild/Boardware, Johan Erasmus van Business Builder - Intratech, Vanessa Brown van Telkare, Carina Pienaar van CB Ads (sy het die uitleg van die boek hanteer), Mark Miller van Redberry Farm en Vickus Boshoff van Coimbra Cycle House.

Carina Pienaar (naasregs) van CB Ads het die uitleg van die boek behartig. By haar is haar man, Herman (regs) en Pieter en Claudine Esterhuizen.

Willem Badenhorst onderteken 'n boek vir André Kok van Directosign by die bekendstelling. André is een van die persone wat in die boek verskyn.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS