Veral treffers uit die Idols-kompetisie het telkens luide applous uitgelok, terwyl Mr Blue sy gehoor heeltyd vermaak het met staaltjies en kwinkslae. Almal het lekker gelag toe hy terugkeer vir ‘n encore en bieg dat ‘n gehoor net saggies hoef te fluister "Nog..." om hom dadelik weer sy kitaar en mikrofoon te laat gryp.
‘n Besondere stem op die musiektoneel in George wat vir ‘n paar jaar stil was, is dié van LeRoy Botha wat verskeie liedjies as voorprogram gedoen het. Die gehoor het duidelik dié akoestiese rocker se unieke stem en sielvolle aanbieding van Blowing in the wind, Blue eyes en ‘n eie komposisie geniet - hopelik bly hy nou op die toneel. Burgemeester Bazil Petrus het hom trouens ná die konsert gevra om ook Saterdag by die Liggiesfees in Yorkstraat op te tree.
Nog ‘n geliefde en fenomenale musikant van George, Michael Lindt, het die liedjie wat Adri van Nieuwenhuizen spesiaal vir Elvis geskryf het, vir George se eie Idol gesing. Michael het die lirieke getoonset. Hy is al jare lank ‘n instelling by die Liggiesfees en sal vanjaar weer daar sing.
Van Elvis Blue se vorige CD’s, onder die naam Jan Hoogendyk, is tans ook beskikbaar by musiekwinkels in die dorp. Hy werk egter tans kliphard aan die nuwe album wat deel van sy prys as Idols-wenner is - dié behoort binne die volgende week op die rakke te wees, betyds vir bewonderaars se Kerskouse.
‘n Bedrag van R30 000 is vir Bethesda ingesamel deur middel van die liefdadigheidskonsert. Die geld sal die organisasie help met hul werk onder terminaal siek pasiënte en sorgbehoewende kinders.
.jpg)
LeRoy Botha sê hy is gerat en gereed om sy musiekloopbaan weer suurstof te gee.
Nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=236&gid=5