GEORGE NUUS - Plaaslike skermster, Britney Adonis van Touwsranten, het weer vir die wêreld gewys wat in haar steek!
Op net 16 het Britney sopas vir die Junior SA onder-20 epeé by die Statebondspele in Augustus in Londen gekwalifiseer. Sy het die afgelope naweek in Gqeberha, ten spyte van 'n enkelbesering in haar heel eerste geveg, ‘n brons medalje behaal.
Britney skerm al agt jaar by die Garden Route Fencing Academy, en is 'n rolmodel en aansporing vir haar gemeenskap in Touwsranten en die ganse Tuinroete.
Een van haar mede-klublede, Herschelle Appels, het in sy eerste kompetisie die afgelope naweek, tot by die Top 16-uitdunrondte gevaar.
Help Britney na Brittanje
Die befondsing van ontwikkelingskermers soos Britney word grootliks deur die klub gedra en wanneer deelname aan 'n internasionale kompetisie beplan word, word daar reeds vroeg verskeie projekte geloods om te verseker dat ontwikkelingskermers dieselfde geleenthede gebied word as ander deelnemers.
Een so ‘n projek is 'n 'Aand van die Harte' op Valentynsaand, Maandag 14 Februarie by Bistro Celeiro met sanger Koos van der Merwe van Prophet-faam wat gaste sal vermaak. Van der Merwe se musiek gaan gepaard met spesiale disse wat die Bistro-chef Julio Agrella jnr, voorberei.
Geregte sluit in swart Ciabatta, beeswange in kakao met aartappel-mousse, die welbekende, heerlike Bistro-slaai, stadig-geroosterde Griekse wildskenkel en mosterd-heuning hoender bedien met verskeie groentes.
Nagereg is ‘n resep reg uit die Franse Alpe: meringue-gevormde appel met Belgiese sjokolade en roos-sago.
Die Bistro-eienaars verhaal slegs hulle kostes en Van der Merwe het ook sy dienste teen 'n afslagfooi aangebied sodat Britney se reisfonds 'n stewige hupstoot kan kry.
Slegs 'n beperkte aantal tafels is beskikbaar teen R395 per persoon en gaste bring hulle eie drankies. Bespreek jou tafel of stoel by Susan Agrella by 082 717 7924.
Susan, 'n Protea-skermer en haar student, Britney, verras dalk die gaste met 'n impromptu vertoning. Ons het 'n voëltjie hoor fluit dat Susan sjampanjebottels onthoof... teater op sy beste!
Susan en Britney
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'