Sy het hierdie toekenning ook in 2010 ontvang.
Myra, 'n opgeleide maatskaplike werker, meta-terapeut, skrywer en nisuitgewer, werk al van 1994 onverpoos in Eden en ook nasionaal en internasionaal ter bevordering van Afrikaans en ook ten einde individue en besighede te bemagtig rondom hul ideale.
Sy is die afgelope sewe jaar betrokke by kreatiewe skryf-slypskole vir nagraadse studente in Groepsdinamika by NMMU, Port Elizabeth, waar sy saam met prof. Frans Bezuidenhout, departementshoof van sosiologie en antropologie, nagraadse studente vanoor die wêreld begelei tot self-aktualisering en abstrakte denke. KREATIV SA het die afgelope jaar 20 publikasies van nasionale en internasionale skrywers die lig laat sien.
Hierdie werk het nie ongesiens verbygegaan nie, want dr. Fanie Marais van Cordis Trust in Pretoria, het reeds in 2000 die potensiaal van Myra se inisiatief besef en oor die jare met borgskappe aangemoedig.
Komende publikasies wat binnekort bekend gestel word, sluit in twee digbundels, Sleepmis.Sleepy Mist deur Hendrik Neethling van Ofcolaco, en Tussen Woorde.
Between Words deur Morney van Staden van Albertinia en vier verhalebundels, Confessions of an Alcoholic's Son deur Werner Schmidt van Bloemfontein; Stofstories uit Doebaai en ander lande deur Anneke Pelser, wat tans in Kasakstan, Rusland woon, ds. André Boezak van Oudtshoorn se verhalebundel, 'n Bek issie ding wat afdraend praat en Myra se kortverhaal-versamelingsbundel, Reënblom, waarin die werk van 28 Afrikaanse skrywers opgeneem is.
Kriteria
Die Goue Pen en die Orde van die Kruik is gerig op skeppende persone wat oor 'n lang tydperk 'n besondere bydrae tot die Afrikaanse taal gemaak het deur skryfkuns, digkuns, drama, musiek (lirieke) en kultuur. Faktore soos mentorskap, gemeenskapsfokus en navorsing word in ag geneem. Die toekenning behels 'n oorkonde, R5 000 prysgeld en 'n gratis publikasievoordeel by Cordis Trust Publikasies. Die publikasievoordeel is gemik daarop om Afrikaans te bevorder op talle terreine. Die onderwerp moet binne ses maande ooreengekom word en die publikasie binne 'n verdere 12 maande plaasvind, behalwe as uitgebreide navorsing nodig is. Myra is baie opgewonde oor die publikasievoordeel, want sy het 3 800 gedigte en 20 boeke wat nog nie gepubliseer is nie. Een daarvan is haar lewensverhaal wat sy in poëtiese prosa- en kortverhaalvorm neergepen het. "As dit aan die kriteria voldoen, sal dit die boek wees wat ek graag sal wil publiseer," het sy aan die George Herald gesê.
Dr. Fanie Marais, uitvoerende trustee van Cordis Trust, het in sy boodskap aan die ontvangers gesê daar is nie 'n tekort aan skeppende talent in Afrikaans nie en dat die taal nie daardeur bedreig word nie.
"'n Groot uitdaging is om die beskikbare skeppende talent te identifiseer, te ondersteun, te bemagtig en geleenthede te skep om 'n bydrae te maak."
Cordis Trust is in 2000 gestig met eie kapitaal vir deernisprojekte, die bevordering van Afrikaans en geestelike publikasies. Dit is 'n geregistreerde NPO.
Ander ontvangers van die Goue Pen en die Orde van die Kruik in die Suid-Kaap is Carina Stander (Tsitsikamma) en Stef Kruger (Mosselbaai).

Die ontvangers van die Goue Pen en die Orde van die Kruik, (van links) Floris Brown (Wes-Kaap), dr. Helena Liebenberg (Wes-Kaap), dr. Susan Smith (Oos-Kaap), Carina Stander (Suid-Kaap), Margot Luyt (Wes-Kaap), Stef Kruger (Suid-Kaap), Myra Lochner (Suid-Kaap), Dana Snyman (Wes-Kaap) en dr. Fanie Marais, (uitvoerende trustee van Cordis Trust).