Maar op dié stadium geld Riana se boek My voete loop na Wellington nog, aangesien sy en Johann vir die nabye toekoms steeds op hul 300-jaar oue plaas, De Compagnie buite Wellington boer waar Riana kliphard saam met die werkers in die wingerde help om die beste druiwe vir hulle wyn en brandewyn te verseker.
Riana het die gaste by die volgepakte restaurant vermaak met staaltjies, voorlesings en haar skerp sin vir humor.
Haar man was aan haar sy en hulle het saam met die ander gaste gesmul aan die heerlike vyfgangmaal wat altyd deel uitmaak van The Rose se maandelikse literêre aande. In haar openingstoespraak het die seremoniemeester, Marelize van der Bergh gesê Riana is die intelligentste vrou wat sy nog ooit teëgekom het.
"Sy is die vrou met die meeste fasette en sy leef elke faset uit op 'n aardse, eerlike en vroulike manier. Sy is skrywer, akademikus, ma, vrou en ouma. Sy kook soos 'n godin, maak tuin, lê vrugte en groente in en het 'n deernis en insig in mense wat verstom. Dinge gaan nie by haar ongesiens verby nie. Sy herken, beleef en interpreteer haar leefwêreld op 'n vars manier en leef dit aan die mense om haar uit. Sy verryk mens."
Wanneer Riana haar hopelik gouer eerder as later in die George-omgewing kom vestig, sal dit 'n groot aanwins vir die omgewing se skrywers in wording wees, aangesien sy steeds haar Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe denke elke jaar in Oktober aanbied en dit dan maar net 'n hanetreetjie tot by haar rykdom van kennis sal wees.

Die sjefs wat die gaste almal soos smulpape laat eet het is van links; Hein Neethling, Bradley Greyling, Sandra Harris, Tia Neethling, Ryan Harris en Wayne Labuschagne. Die blonde vrou langs Riana Scheepers is die seremoniemeester, Marilize van der Bergh van De Kat TV.

Lusandra en Pierre Cronje van Blanco het ook na Riana kom luister. Pierre is die eienaar van Avis Van Rental en Lusandra is 'n debat-entoesias en besige ma van vier.
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR